Die Weg

 

God se liefde verander lewens

Ek doen 'n beroep op jou in belang van my kind Onesimus. Hier in die gevangenis het ek sy geestelike vader geword. Voorheen was hy vir jou nie bruikbaar nie, maar nou is hy baie bruikbaar sowel vir jou as vir my. Ek stuur hom na jou toe terug, en my hart gaan saam met hom” - Filemon 1:10-12.

In die lewe van Onesimus sien ons die lewensveranderende krag van God se liefde soos dit in Jesus Christus geopenbaar is. Onesimus se hele lewe, ook sy verhouding met ander, het hierdeur ingrypend verander. Dis geheel en al omvorm, heeltemal nuutgemaak!

Dit blyk duidelik uit die vergelyking tussen wie en wat hy vroeër was en wat hy nou is. Voorheen was hy net 'n slaaf, 'n dwangarbeider, 'n onbruikbare niksnuts, 'n droster wat moes vlug voor die gereg. Maar nou is hy meer as net 'n slaaf; hy het 'n geliefde broeder geword; 'n gewillige en 'n bruikbare dienskneg, nie alleen vir Filemon nie, maar ook vir Paulus. Anders as vroeër, het hy nou in Paulus ook 'n voorspraak, 'n pleitbesorger gehad, iemand wat vir hom omgegee het en sy belange op die hart gedra het. Sy lewe het soos 'n handomkeer verander!

Hoe? Deurdat hy in die gevangenis tot geloof gekom het! Daar het hy gehoor van God se genade in Jesus Christus, van sy liefde waardeur Hy ons uit die slawerny van ons sonde losgekoop het. Dit het hom in die hart gegryp en het sy lewe vir altyd verander. En deur dié liefde, so het Paulus vas geglo, sou ook die verhouding tussen Onesimus en Filemon nuutgemaak kon word.

Wat 'n heerlike troos is dit nie vir elkeen van ons nie! Ons lewens kán verander; ons sinlose bestaan en ons stukkende verhoudings kán nuut word! As ons lewe uit die krag van God se liefde.

Ds. A.J. Myburgh
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css