Die Weg

 

Geseënd is jy as jou gewete jou aankla

“Toe Jakob merk dat daar koring in Egipte was, het Jakob aan sy seuns gesê: Wat kyk julle so na mekaar? En hy sê: Kyk, ek het gehoor dat daar koring in Egipte is; trek daarheen af, en koop vir ons daar koring, dat ons kan lewe en nie sterwe nie. Daarop het tien van Josef se broers afgetrek om koring uit Egipte te koop.” - Genesis 42:1-3.

Josef was sewentien jaar oud toe hy deur sy broers as slaaf aan Egipteland verkoop is. Op die ouderdom van dertig jaar word Josef deur Farao as heerser in Egipteland aangestel: dit wil sê, dertien jaar later. Dit was ook die begin van die sewe jaar van voorspoed waarvan Farao gedroom het. Toe die sewe jaar van hongersnood begin, het daar dus reeds twintig jaar verloop sedert Josef as slaaf verkoop is. As dit nog 'n jaar geneem het voordat Jakob sy seuns na Egipteland gestuur het om kos te gaan koop, kan ons aanvaar dat Jakob sy broers eers na een-en-twintig jaar weer sou sien.

Een-en-twintig jaar is 'n lang tyd vir die broers van Josef.  In al hierdie jare moes hulle aanskou hoe hulle pa agteruitgaan omdat hy nog steeds oor "die tragiese dood" van sy lieflingseun getreur het. Dit is ' n lang tyd om onder 'n leuen te leef en om die geheim van Josef se verdwyning vir hul pa weg te steek. Die gevaar het bestaan dat een van hulle in 'n oomblik van swakheid die geheim kon laat uitlek. Verder was daar steeds die moontlikheid dat Josef dalk skielik op 'n dag sy verskyning sou maak. Hoe is elke besoeker nie miskien met 'n beklemde gemoed ingewag nie! Dit was seker vir niemand van hulle maklik nie. Al die jare het hulle onder die vrees gelewe dat hulle uitgevind kon word.

Dan het hulle gewetens hulle ook sekerlik nog aangekla. Die gewete is altyd 'n slegte ding: dit laat jou skuldig voel; dit maak jou ongelukkig; dit neem soms die slaap van jou weg; dit herinner jou aan die dinge wat jy graag wil vergeet. En hoe vergeet 'n mens dié dinge wat jy graag wil vergeet, terwyl daar talle dinge is wat jou steeds daaraan herinner? Voorwaar, die pad van die sondaar is nie altyd lekker nie, maar eerder vol spanning, vrees, onsekerheid en selfs bitterheid. So skryf Jeremia byvoorbeeld: "Die kwaad wat jy gedoen het, sal jou straf word; omdat jy van My af weggedraai het, sal jy daaronder ly. Jy sal agterkom hoe rampspoedig dit is, jy sal proe hoe bitter dit is om My, die Here jou God, te verlaat, om geen eerbied meer vir My te hê nie, sê die Here God, die Almagtige." (Jer 2:19).

Dat die sondaar hierdie soort pyn belewe, moet egter nog steeds as 'n genadige bemoeienis van God gesien word. Dit is nog steeds God se weg met die sondaar om hom tot bekering te bring. Daarom vra Paulus die vraag: "God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie?" (Rom 2: 4). Op 'n ander plek skryf hy: "Maar nou word ons deur die Here geoordeel en getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel sal word nie." (I Kor 11: 32). Petrus skryf: "En beskou die geduld wat ons Here met ons het as geleentheid om gered te word." (2 Pet 3: 15) En ook: "Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer." (2 Pet 3:9).

En tog moet ons nie na die tugtiging van die Here soek nie. Dit is veel beter om só te lewe dat ons soos Paulus kan sê: "Daar is ook niks waaroor my gewete my aankla nie." (1 Kor 4:4). Dan sal ons iets begryp van die woorde van die psalmdigter as hy sê: "Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak." (Ps 4:9). Dit is egter alleen moontlik deur die soenverdienste van onse Here Jesus Christus, want alleen deur die bloed van Christus word ons gewete van dooie werke gereinig om die lewende God te dien (Heb 9:14). Hierdeur kan ons volkome oorwinning oor die verlede verkry sodat ons saam met Paulus kan sê: "Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is." (Fil 3:13).

Die broers van Josef kon dit op daardie stadium nog nie sê nie. Vir hulle het die oomblik van waarheid nog in die toekoms gelê. Josef het egter oor die verlede reeds vrede by sy God gevind. Die versoening met sy broers sou vir hom bloot 'n formaliteit wees - nie meer 'n stryd nie.

Uit: “Word 'n wenner” deur dr Willie Marais (Met die vriendelike toestemming van Aktuapers)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css