Die Weg

 

Uit liefde vir die teenwoordige wêreld

“Want Demas het my verlaat, omdat hy die teenwoordige wêreld liefgekry het” - 2 Timoteus 4:10 OAV.

Demas het “my” verlaat. 'n Mens hoor daarin die toon van Paulus se diepe persoonlike teleurstelling. As jy verraad pleeg teenoor die saak van God – God se volk en God se kerk 'n skop in die gesig gee – dan word dit deur ander mense gevoel: jou vader of jou moeder, jou gesin, jou vriendekring en jou kerk (gemeenskap van gelowiges). Om jou af te sny, kos bloed. Harte word gebreek. Wie weet hoe geheg Paulus aan hierdie Demas was? Wie weet hoe Paulus hieronder gely en dit sy moeilike posisie nog vererger het?

Maar dit gaan nie net oor Paulus self nie, want Demas het met Christus gebreek. Demas wat eens op 'n tyd vir Christus gekies het, los nou vir Christus. Demas, die medewerker van Paulus, arbeider, stryder, evangelis in God se koninkryk, laat die werk in die steek. Hy gooi Jesus se bloed, sy versoening, sy liefde na Hom toe terug.

As Paulus praat van die “teenwoordige wêreld”, hoef ons nie dadelik aan allerlei sondige buitensporighede te dink nie. Dit is ook alles wat rondom ons is en wat met die dinge en die mense rondom ons gebeur. Die “teenwoordige wêreld” kan op sigself ook die beste, die goeie en die mooi dinge bevat. Daar is geen beswaar daarteen om van hierdie wêreld te hou nie. Die teenwoordige wêreld is ook God se wêreld. En mag ons nie hou van baie van die dinge wat die wêreld bied nie? Mag ons nie van ons vrouens, ons mans, ons kinders, ons werk en arbeid, van die natuur en die kultuur in al hul ryke fasette hou nie?

Natuurlik mag ons. Jesus sê self: “Wie vader of moeder liefhet .....” (*). Maar juis dáár lê die knoop by Demas en by baie van ons, Jesus sê: “bo My”. Om die teenwoordige wêreld “bo My” (bo Jesus) lief te hê, mag nie. Ons moet in hierdie wêreld werk, daarin lewe, daarin asemhaal. Ons moet tot oor ons ore daarin wees en “met die hande werk wat goed is” (Ef 4:28). Maar ..... wees waaksaam sodat jy jou hart nie daarop sit nie. Moenie daardeur vasgevang word nie. Ons moenie toelaat dat die teenwoordige wêreld ons een en alles word, sodat ons later daarin verdrink nie. Behou die afstand. Besit die dinge asof jy dit nie besit nie (1 Kor 7:30). Wees in die wêreld maar nie van die wêreld nie. Moenie jou aan die wêreld verbind nie. “Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie”. Ons moet pelgrims wees en bly. Ons mag wat edel is nie weggee aan die wêreld nie. Ons moet die wêreld nie liefhê “bo My” nie, sê Jesus. Dit skaad ons siel. En .... “wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly?” (Mat 16:26).

Dit is op hierdie kardinale punt waar dinge met Demas skeefgeloop het. Die teenwoordige wêreld het sy “skat” geword. En “waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees” (Mat 6:21). En daarom het Demas vir Paulus en ook vir Christus verlaat. Demas het weggeloop, sonder attestaat vertrek. Wat daar in Tessalonika van hom geword het, weet ons nie. Het hy die roltrap na benede geneem tot by die poorte van die hel? Dit is moontlik! As jy hand aan hand met die wêreld wil stap ..... waar eindig jy? Die teenwoordige wêreld gaan verby. En die wat haar liefhet, daarmee saam!

Ds Gabe van Duinen

(*) “Wie vader of moeder liefhet” verwys na dinge in die lewe wat jy hoog ag.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css