Die Weg

 

Die hemelruim dra `n boodskap oor God se handewerk uit

“Sonder spraak en sonder woorde, onhoorbaar is hulle stem. Tog gaan daarvan ’n boodskap uit oor die hele wêreld en hulle taal bereik die uithoeke van die aarde” - Psalm 19:4-5.

Eeue lank staar mense al met verwondering na die hemelruim. Die son en maan, en al die ander hemelliggame, hou jonk en oud, wetenskaplikes en natuurliefhebbers aan die dink. Sterk teleskope bestudeer die sonnestelsels, ontdek voortdurend nuwe sterre en planete.

Die digter van Psalm 19 het ook na die hemelruim opgekyk - sonder ‘n teleskoop. Hy sien egter nie net die prag daarvan nie, maar “hoor” ook ‘n boodskap. ‘n Boodskap sonder woorde! Waaroor? ‘n Boodskap oor die almag van God, oor die werke van sy hande. Ja, as jy opkyk, kan jy sien hoe groot Hy is. Daar in die sterrehemel kan jy die Skeppergod se ontsaglike werke aanskou. Al is daar nie woorde nie, beleef die mens hierdie lofprysing aan God. Dit word aanhoudend, dag na dag, nag vir nag, bekend gemaak. Tot in die verste uithoeke van die bewoonde wêreld!

Hoeveel keer sien ons nie met sononder hoe mense strand toe stroom, met kamera of selfoon in die hand, of verliefde paartjies wat saam na die kleureprag daarvan staar nie! Almal getuies daarvan dat die hemele met onhoorbare woorde God se heerlikheid verkondig. Psalm 8 noem die maan en sterre die werk van God se vingers, asof sy handtekening daarby aangebring is. Niemand kan twyfel daaraan dat ‘n magtige Skepper die maker is nie! Aan die Romeine skryf Paulus: “Van die skepping van die wêreld af kan ’n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ’n mens nie met die oog kan sien nie.” (Rom 1:20).

By sy skeppingswerk is ook sy woord gevoeg, sodat ‘n mens in hoorbare taal kan leer wie Hy is, wat sy wil is en wat waarlik blydskap gee. Sy Woord is kosbaarder as goud en soeter as heuning.

Kom ons spits vandag ons ore om die stem van God in sy skepping en Woord te hoor. Prys Hom oor sy werke wat groot is, sy Naam wat heerlik is, en sy wil wat goed is.

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief 1/9/2014)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css