Die Weg

 

Skipbreukelinge

“Hou vas aan die geloof en behou 'n goeie gewete. Omdat sommige hulle gewete onderdruk het, het hulle geloof skipbreuk gely. Onder hulle is daar Himeneus en Aleksander, wat ek aan die Satan oorgegee het, sodat hulle daardeur kan leer om God nie te laster nie.” - 1 Timoteus 1:19-20.

Hulle het hulself goed voorberei. Met 'n spesifieke doel voor oë het hulle met hul boot op die groot see uitgevaar. Hulle begin was goed want hulle het 'n doel gehad. Maar hulle het nooit hul doel bereik nie. Hulle het van koers af geraak, met hul boot op die rotse geloop en in die water beland. Hulle het skipbreuk gely.

Dit kan ook met ons geloofsboot gebeur, selfs met die Kruisvlag aan die mas en met God se seekaart by die stuur. So het Himeneus en Aleksander onder die Kruisvlag op die geloofsee uitgevaar. Maar onderweg het hulle die rieme ingehaal en die seile ingebind, dit is, hulle het die stryd van die geloof gestaak. Ook het hulle hul kompas só hanteer dat dit onakkuraat geword het. Hulle het hul gewete, die kompas van die lewe, onderdruk (v 18). Dus het hulle van koers af gedryf en uiteindelik skipbreuk gely.

Dit is waarmee Paulus ons konfronteer. Waarom? Ons dink ons sal die navigasie ster in die oog hou sodat ons nie van koers af raak nie. Maar een donker nag gebeur dit! Wolke van sonde ontneem ons blik op die Ster van Hoop, Jesus Christus, waarmee ons ons koers bepaal. En daar gaan ons! Dit is belangrik dat ons voortdurend ons rigting bepaal, stuur en roei. Maar hoe gou laat ons slap lê. Ons hele lewe is immers een van skik en rig.... Is jy steeds daarmee besig en gaan jy dit vandag ook weer doen?

Van Himeneus en Aleksander word alleen vertel dat hulle geloof skipbreuk gely het. Verder weet ons niks van hulle af nie. Dit was die belangrikste en beslissendste van hul lewe: hulle het van koers af geraak omdat hulle hul gewete onderdruk het.

Gaan gerus na, sommer nou dadelik, of jy nie dalk ook in die verkeerde vaarwater is nie. En of jou naam nie saam met hulle s'n genoem sal word nie!

Sorg dat jou geloof sodanig is dat jy aan die einde van jou lewe saam met Paulus kan sê: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.” ( 2 Tim 4:7). Hy klink soos 'n skipper wat ná 'n vermoeiende reis die veilige hawe binnegevaar het.

Ds C Gilhuis in “Ontmoetingen”
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css