Die Weg

 

Goeie en slegte dae

Wees bly op die dag van voorspoed, en as daar 'n dag van teëspoed kom, sien dit so: soos die een het God ook die ander gegee” - Prediker 7:14 NAV.

Daar is 'n reëlmaat in alles. Dag word afgewissel met nag, somer met winter, reën met droogte. Op 'n meer persoonlike vlak word blydskap afgewissel met trane, goeie dae met slegte dae. Ons kan dit ook meer positief beskou: nag word afgewissel met dag, winter met somer, droogte met reën, trane met blydskap, slegte dae met goeie dae. Hulle hoort onafskeidbaar bymekaar. Dit is hoe God alles gemaak het. Dit herinner ons aan die verganklikheid en die vernuwing van die skepping.

Hoe mooi kan 'n dag wees as die lente weer aangebreek het! Hoe lekker is dit om wakker te word na 'n goeie nagrus! Wie is nie bly as 'n geliefde onverwags sy/haar opwagting maak nie! Dit vervul ons harte met dankbaarheid en ons dank God daarvoor. Maar as ons dag met teëspoed en hartseer gevul word, moet ons daaraan dink dat God ook hierdie dag geskape het. Hy hou alles in sy hand en Hy is steeds dáár. Hy laat ons nooit alleen nie. Hy begelei ons - elke tree wat ons gee.

Ons kan die seisoene bepaal, maar ons weet nie eens wat vandag vir ons voorlê nie. Daarom kan ons nie op ons eie wysheid staatmaak nie. As dit vandag goed gaan met ons, moet ons God daarvoor dank. As dit minder goed gaan, moet ons op Hom vertrou en moet ons Hom dank omdat ons op Hom kán vertrou. Hy hou immers ons hele lewe in sy hand. Dít is wysheid!

In weelde en ongeluk,
altyd sal ek die HERE prys;
altyd vir Hom my lof laat rys,
in voorspoed en in druk.
Hom sal ek die ere skenk,
tot roemtaal kragtig aangespoor.
Sagmoediges, hul sal dit hoor
en aantree op my wenk.
(Psalm 34:1 Beryming)

Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.” (1 Tes 5:18).

 - dw -
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css