Die Weg

 

Om lojaal te wees aan Christus

Niemand mag op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees jy vir die gelowiges 'n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid.” - 1 Timoteus 4:12.

Paulus vra van Timoteus dat sy optrede só moes wees dat hy, nieteenstaande sy jeug, die respek van die mense sou verdien en hulle daarom nie op hom sou neersien nie. Dit geld vir elkeen van ons. 'n Mens se handel en wandel bepaal immers of jy mense na jou toe aantrek of hulle afstoot. Wat belangrik is, is dat ander mense deur jou voorbeeldige optrede die vrymoedigheid sal neem om met jou oor geestelike dinge in gesprek te tree. Laat ons tog onthou dat daar daagliks mense saam met ons deur hierdie lewe gaan wat behoefte daaraan het om oor geestelike dinge te gesels. Die atmosfeer wat ons deur ons optrede skep, kan óf as demper óf as aanmoediging dien.

Wat beteken dit as Paulus sê dat Timoteus 'n voorbeeld moet wees in geloof. “In geloof” kan saamgevat word met die twee woorde: vertroue en lojaliteit. Dit hou nie net die gedagte in van 'n vaste vertroue wat die gelowige in die Here Jesus moet hê nie, maar dit onderstreep ook die waarheid van getrouheid aan die Here Jesus, ongeag die prys wat dit verg in die alledaagse lewe.

Dit is voorwaar nie moeilik om 'n goeie soldaat te wees terwyl alles voor die wind gaan nie. Maar die soldaat op wie gereken kan word, is hy wat voort veg selfs wanneer sy liggaamskragte min en sy maag leeg is - wanneer hy hom bevind in 'n aanval waarvoor hy die beweegredes nie altyd ten volle verstaan nie. Dit is die voorbeeld wat Timotheus moes stel en waartoe ons ook opgeroep word in ons getrouheid aan die Here Jesus: getrou ten spyte van omstandighede, ja, lojaal aan Jesus Christus ongeag die lig of duisternis wat ons soms oorval.

Uit Lig en lewe onder redaksie van MJ Smuts. (verwerk)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css