Die Weg

 

Om sin te kan maak uit alles wat met jou gebeur (1)

Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my 'n doring in die vlees gegee, 'n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: 'My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.' Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.” - 2 Korintiërs 12:7-9 NAV.

'n Mens kan van Paulus leer wat positiewe denke werklik is: hy was in staat om geestelik te groei uit die pyn en leed wat hy in sy lewe ondervind het. Om positief te dink beteken nie om die erns en die probleme van die lewe te ignoreer of opsy te stoot en net te kyk na dié dinge wat lekker is nie. Inteendeel, Paulus het doelbewus na die donker kant van sy lewe gekyk. Hy het hom met sy eie swakhede geïdentifiseer en probeer bepaal of hy iets positiefs daaruit kon leer.

Miskien het sy geloof daartoe bygedra dat hy dit kón doen. Hy het homself nie met gemeenplase opgehou nie, soos: "Moenie jou bekommer nie, alles sal regkom" of "Elke donker wolk het 'n silwer randjie” of  "So is die lewe" ... Wanneer hy swaargekry het, het hy betekenis daarin gesoek. Sy beskouing was dat niks toevallig gebeur nie; alles was met 'n rede. En dit is hierdie verborge rede waarna hy altyd gesoek het. Hy was daarvan oortuig dat God hom iets daaruit wou leer.

'n Goeie voorbeeld daarvan was sy kroniese siekte. Hy het lank met die gedagte geworstel waarom hy so moes ly, juis vir hom wat sy lewe toegewy het om die evangelie van Christus te verkondig. Hý, wat as sendeling, deur gebiede gereis het wat nog nooit van Christus gehoor het nie. Wat gedurig in konfrontasie was met die owerhede en die plaaslike bevolkings. Maar luister na sy dankbaarheid as God hom beloon met mense wat die Christelike geloof aangeneem het (1 Kor 1:4, Fil 1:3, Kol 1:3, ....).

En dit was juis hy, die onselfsugtige, die onvermoeide, wat deur hierdie siekte geteister is. Kroniese aanvalle van pyn en swakheid. Maar waarom nie? Paulus het lank met hierdie vraag geworstel, totdat hy 'n antwoord daarvoor gevind het: lyding sou verhoed dat hy homself sou verheerlik en op sy eie grootheid sou roem. Dit sou hom daaraan herinner dat hyself ook maar net 'n swakke mens is. Daardeur kon hy die pyn en die leed van ander mense begryp en werklik meelewing met hulle betoon. 

Toe hy die werklike sin van sy siekte begryp het, kon hy dit ook weer met God in verband bring. Hy kon dit aanvaar en daarmee saamlewe. Dit was nie vir hom nodig om te vra of God magteloos is nie. Hoe dikwels het hy vir genesing gebid! Nogtans sê Paulus nie dat God die siekte vir hom gegee het nie. Maar God het dit juis tot sy beswil gebruik; om vir Paulus te wys dat sy krag nie uit homself kom nie, want alhoewel hy swak was, het hy steeds weer krag van God ontvang.

Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.” (2 Kor 12:10).

(Word vervolg)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css