Die Weg

 

Met vooroordeel veroordeel

En hulle het almal Hom veroordeel dat Hy die dood skuldig was.” - Markus 14:64.

Daar is kort proses met Jesus gemaak. Die oordeel was reeds gevel nog voordat voldoende bewysmateriaal voorgelê of geloofwaardige getuies geroep is. Daar moes net genoeg geknoei word.

Die owerpriesters en die Joodse Raad het hul bes probeer om getuies te soek met genoegsame bewyse dat Hy die doodstraf kon kry (v 55). Maar met die getuies wat na vore gekom het kon hulle geen saak teen Jesus maak nie, want hulle getuienis was vals en onbetroubaar.

Vooroordeel is voor-veroordeling. Wat toe gebeur het, gebeur ook vandag nog heel dikwels. Halwe waarhede word verkondig en deurslaggewende samehang van omstandighede word weggelaat. 'n Vermoede word maklik opgeblaas tot 'n feit en die lus na nuuskierigheid en sensasie doen die res. Al gou word 'n eerbare mens se goeie reputasie hom ontneem, of word iemand wat regtig skuldig is sensasioneel en genadeloos veroordeel.

Die eerste Christene het nie gevra wie Jesus onskuldig veroordeel het nie, en het ook nie om wraak geroep nie. Vir hulle was dit belangriker om vir mense insig te gee waarom Hy, wat as misdadiger tereggestel is, die Seun van God en ons Verlosser is. Hierdie Verlosser bewys genade aan hulle wat valse regspraak oor Hom uitgeoefen en Hom veroordeel het. Hy bewys ook genade aan ons. (Maria Andrea Stratmann)

Wie moes vandag voor my eie innerlike regterstoel verskyn en het dit nie gemaak nie? Dit is die belangrike vraag wat ons elke aand vir ons moet afvra. En as dit dan by ons opkom hoe maklik ons ander mense beoordeel of veroordeel, is dit vir ons 'n spieël waarin ons onsself ontdek. Wie homself as regter oor ander aanstel, vergeet dat hyself beoordeel word volgens sy eie denke, woorde en werke – moontlik deur sy medemens, maar sekerlik deur God.

Ons sal dalk skrik as ons begin besef hoe onbarmhartig ons dikwels met ander mense omgaan, terwyl ons terselfdertyd vra vir begrip en vergifnis wanneer ons verkeerd gedoen het. Ons moet besef hoe min naasteliefde ons werklik besit en die Here bid om ons uit ons swakheid op te help. Want God alleen weet óf en hoeveel moeite ons doen om werklik 'n dissipel van Jesus te word in denke, woorde en werke. Miskien is dit vir ons nodig dat ons elke dag van vooraf die alfabet van die liefde moet begin leer. (Jörg Zink)

(Aanhalings uit: Neukirchener Kalender 2004)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css