Die Weg

 

Ons hulp in nood

“Ons hulp is in die Naam van die HERE wat hemel en aarde gemaak het” - Psalm 124:8 OAV.

Hoeveel keer het ons nie al gesê nie: “Sjoe, ek was gelukkig, dit het hierdie keer weer goed afgeloop?” Die oomblik toe ons 'n motorongeluk net-net kon vermy; toe die dokter gesê het: “Nee meneer/mevrou die x-strale wys dat daar niks ernstigs met u verkeerd is nie”; toe ek ongedeerd uit 'n rooftog vrygekom het ........

Psalm 124 is 'n loflied tot eer van die Here omdat Hy Israel tot hulp gekom en die volk uit die hand van sy vyande verlos het. Maar dit moet ook óns danklied wees. Want ook met ons het dit goed gegaan! Die gevaar is afgewend en ons het vrygekom soos 'n voël uit 'n vangnet (v 7). Dawid sê nie hulle was gelukkig nie; hy bring dank aan God. Dit is die Here wat hulle bewaar het.

Ons beskou onsself gelukkig wanneer dit met ons beter gaan as wat ons verwag het, of as ons moeilike of gevaarlike situasies kon vryspring. Maar is dit wel so vanselfsprekend? Soms as ons terugkyk na die tye van nood waarin ons verkeer het, moet ons erken hoe naby God aan ons was terwyl ons nie eens daarvan bewus was nie. 'n Mens kyk terug met verbasing en dankbaarheid ná so 'n ervaring. Daarom moet die laaste vers van hierdie Psalm ook die opskrif wees oor ons hele lewe: “Ons hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het” (Ps 124:8 NAV).

- dw -

(Met erkenning aan Steffie Langenau, Neukirchener Kalender)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css