Die Weg

 

Jou skuilplek vir ewig

"Die ewige God is 'n skuilplek, sy arms is altyd onder jou.” - Deuteronomium 33:27 NAV.

Om iemand in die arms te neem en te omhels, is kenmerkend van die liefde van 'n ouer vir sy kind, óf die liefde tussen hegte familie en vriende. Omhelsing dui nie net op toegeneentheid en liefde nie - maar ook op ondersteuning, beskerming, skuiling en 'n veilige beskutting. Hoe 'n warm gevoel gee dit nie as 'n kind in die arms van sy vader of moeder nestel nie?

Dit maak egter nie saak hoe sterk 'n mens se arms is nie, daar kom 'n dag dat hulle hul greep moet laat los. Menslike arms, hoe goed en liefdevol, kan jou nie vir altyd vashou nie. Maar die arms van God is “ewig". Niks kan ons ooit uit God se arms losruk nie! Ons weet dat wanneer ons in die liefde van God toegevou word, ons vir altyd daar gehou sal word.

Maar die arms van God hou jou nie net vas nie, sy arms is ook onder jou. Al voel jy swak weens lyding, pyn of beproewing, God se ewige arms is altyd onder jou om jou te stut sodat jy nie sal val nie!

Word bewus van God se ewige liefde, dat sy genade ewig is, dat die beskerming wat jy van Hom ontvang deur niks of niemand versteur kan word nie.

Ons kan vir onsself neste bou op hierdie aarde, maar vroeër of later sal dit aan stukke geruk word, want niks is hier stabiel en betroubaar nie. Selfs die toppe van die reuse berge verweer met die tyd. Maar die liefde van God bly altyd dieselfde. "Want berge mag wyk en heuwels wankel, maar my goedertierenheid sal van jou nie wyk en my vredeverbond nie wankel nie, sê die HERE, jou Ontfermer." (Jes 54:10 OAV).

JR Miller (1840 – 1912)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css