Die Weg

 

Die Weg (2) - Die stem agter jou

(lees saam met die vorige boodskap)

“ ... sal jy agter jou 'n stem hoor sê  .....” - Jesaja 30:21 (1983 vertaling).

Toe jy gewik en weeg het om na regs of links uit te wyk, het Hy jou in die oog gehou. Hy was dáár op die gevaarlike weg wat jy wou volg. Hy het gesien dat iets skort ... Dan meteens is Hy by jou. Net toe dit lyk of alles skeef wou loop, dat jy na regs of links wou uitwyk, toe was Hy reg agter jou en jy hoor sy stem.

Daar is situasies en tye in die lewe wanneer die stem van 'n mens nie meer tot ons kan deurdring nie, wanneer ons ook nie meer kan luister en ook nie eens meer kan hoor nie. As 'n persoon in so 'n toestand verkeer is dit buitengewoon moeilik om met woorde 'n indruk op daardie persoon te maak; om jou verstaanbaar te probeer maak vir 'n mens wat in 'n groot krisis of diepe nood verkeer. Dit is net woorde in die wind. Hierdie mens is só vér van jou, só diep in die put van eie nood en verdriet dat jou stem hom/haar nie kan bereik nie.

Maar as jy nie meer kan nie, kan God wel. Sy stem haal die mens in, sy stem bereik die mens ook in sy diepste nood. Waar die mens ookal voor die afgrond van vertwyfeling staan, sal hy die fluistering van God se stem agter hom kan hoor. Watter draagwydte en deurdringende krag is daar nie in God se fluisterstem nie! Dit dring deur tot in die verskriklikste dieptes van die lewe! Die fluistering kom van Golgota. Die fluistering kom uit die drie donker ure. Die fluistering kom uit die bloed van God se liefde wat Christus gestort het tot ons versoening met Hom. Met daardie liefde bereik God die mens in sy uiterste verlorenheid.

Ek weet nie op watter deel van die pad jy op hierdie oomblik is nie. Moontlik gaan dit nie goed met jou nie. Maar al is jy ook, soos die moordenaar aan die kruis, nog net deur 'n druppel bloed of 'n laaste asemteug van die dood geskei - luister net, jy sal 'n stem agter jou hoor.......

(word vervolg)

Ds Gabe van Duinen
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css