Die Weg

 

Innerlike vrede dwarsdeur die jaar

En ‘n groot stormwind het opgekom, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat dit al vol wou word. Maar Hy was agter op die skuit aan die slaap op die kussing. En hulle het Hom wakker gemaak en vir Hom gesê: Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie?” - Markus 4:37-38.

Hierdie gedeelte, waar ons Here die storm op die see van Galilea stilgemaak het, is sekerlik een van die mees bekendste gedeeltes in die Nuwe Testament. Wat 'n mens opnuut by die lees hiervan moet tref is die innerlike vrede wat ons Verlosser, Jesus Christus, tydens hierdie traumatiese gebeure uitgestraal het.

As ervare vissermanne sou die dissipels sekerlik nie vir enige kleinigheid hulle Meester se rus versteur nie. Maar as hulle optree soos wat hier staan: “Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie?”, moet ons besef dat dit 'n uiters ernstige krisis is wat hom hier afspeel. En tog ... ons Here het onder alles rustig gebly. Dit waarin sy dissipels (en ons) fouteer, bly nog altyd dieselfde: “Waarom is julle so bang? Hoe het julle dan geen geloof nie?” (Markus  4:40).

Ons moenie dat hierdie waarheid aan die begin van die nuwe jaar by ons verbygaan nie. Ons situasies is NIE so buite beheer as wat jy en ek so maklik dink nie!

Ons is NIE op ons laaste tree in ons land, of jy in jou besigheid, of in jou studie nie! Kom ons begryp opnuut dat die Here ons juis hier leer dat ons nie ons eie oorreaksie en oordrewe ontsteltenis moet glo nie. Nee, kom ons glo eerder die Almag van ons God by wie niks onmoontlik is nie en wat vir ons alles ten beste beskik.

Ds Dirk Laufs
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css