Die Weg

 

Verseker van 'n ewige lewe

Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus” - Romeine 8:16-17 (53 vertaling).

Die Christen-gelowige besit die hoop op die ewige lewe. Daarsonder sou hierdie lewe tog geen betekenis gehad het nie. Wat sou dit die mens baat dat hy die hele wêreld win en skade ly aan sy siel? (Mat 16:26). Wat sou al ons moeite, stryd en inspanning tog beteken as al ons werke op die ou end saam met ons die graf ingaan? Waarvoor al die lyding van hierdie lewe as daar nie vooruitsig is op 'n volmaakte lewe ná hierdie lewe nie? Watter sin het ons aardse pelgrimsreis as daar nie 'n einddoel, 'n vaste stad, 'n ewige rusoord vir ons wag aan die end van die lewenspad nie? Waarom die stryd teen die sonde en die magte van die duisternis, as almal, sonder onderskeid, die dood ingaan en daar geen oordeel in die ewigheid plaasvind nie? Ja, sonder die verwagting van die ewige lewe sou ons ganse bestaan op aarde 'n wrede en droewige ironie wees, 'n skaduwee sonder inhoud, 'n belofte sonder grond, 'n lugspieëling sonder werklikheid. Dan sou alle godsdiens en sedelikheid sonder fondament gewees het. Dan sou ons moes sê: “Laat ons eet en drink, want more sterf ons" (1 Kor. 15: 32).

Daarom het die mensdom nog altyd gesoek na 'n manier om ewig te bly lewe. Die ewigheidsdrang is in die menslike hart ingeskape. En alhoewel hy baie weë en middele bedink het om die ewige lewe te bekom, kon hy nooit daarin slaag nie. Die Egiptiese konings het vir hulle grafkelders laat bou en hul lyke laat balsem om eeue lank bewaar te bly. Hulle het hul hofskatte by hulle laat begrawe en hul hofdienaars laat ombring om saam met hulle oor die doodsrivier te vaar. Maar dit alles het hulle nie die ewige lewe gegee nie. Vandag glimlag ons oor die gestorwe “seuns van God", soos hulle hulself genoem het. 'n Opgemaakte graf en 'n gebalsemde liggaam mag lyk soos die lewe, maar dit laat slegs die vreeslike onoorwinlikheid van die dood des te sterker uitkom.

Daarom is dit 'n heerlike troos dat ons uit God se Woord, deur sy Gees, verseker mag word dat ons Verlosser leef en ons sal lewe; dat ons deur die geloof in Christus kan uitroep: “Dood waar is jou angel; doderyk waar is jou oorwinning?" (1 Kor. 15: 55). Agter ons lê Golgotha, waar die dood vir ewig verslind is in die oorwinning; voor ons lê die ewige lewe. O, wat 'n voorreg, wat 'n onuitspreeklike geluk om te mag weet dat die dood oor ons geen mag meer het nie en dat ons deel het aan die ewige lewe! Christus skenk hierdie troos aan ons. Immers, dis Hyself wat die dood vir ons oorwin het en as eersteling die hemel ingegaan het. Hy praat as die oorwinnaar oor die dood en die graf. En daar kan dus nie meer die minste twyfel by ons bestaan nie, omdat Hy ons verseker van die ewige lewe (1 Kor. 15 : 20-26).

Luister na die kragtige getuienis van Keurvors Frederik III (1515-1576): “Duiwel, dood, hel, en wêreld met hul aanhang. . . . kan sonder die wil van my hemelse Vader nie die kleinste haar van my hoof skaad nie. Al neem hulle ook my tydelike lewe .... help hulle vir my so teen hulle wil die Vaderland in .... Waar my siel sal rus tot op die dag dat die liggaam weer sal opstaan, om met al die uitverkorenes vir ewig te lewe. Dit is my geloof, troos en vreugde". Wat 'n lieflike getuienis van 'n vors!

Uit: Die Vaste Fondament - Dr SJ van der Walt (effens verkort).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css