Die Weg

 

Gewillig om vir Hom te lewe

“Ek het lus, o my God, om u welbehae te doen, en u wet is binne-in my ingewande.” - Psalm 40:9 (1953 vertaling).

Ons Heiland bewaar ons duurgekoopte lewe sodat geen haar van ons hoof sonder sy wil geskaad sal word nie. Ja, Hy hou ons lewe in stand tot in alle ewigheid, sodat selfs die dood ons nie van sy liefde kan skei nie. Hoe geseënd is ons dan nie! Wat sal ons die Here vergeld vir al sy weldade aan ons betoon? (Ps 116:12).

En tog is dit nie al waarom dit in die lewe gaan nie. Ons saligheid is nie die doel waarvoor God ons op hierdie aarde gestel het nie. As ons net oor ons eie saligheid bekommerd is, is ons selfsugtig. God het ons op aarde gestel om te lewe tot sy eer en tot heil en nut vir ons medemens. Ons moet in die eerste plek nie ons eie saligheid soek nie, maar die eer van God in ons hele lewe. Daarvoor moet ons bereid wees om offers te bring, om alles wat ons besit, ja selfs ons eie lewe, op die altaar te lê. Ons saligheid kan nie losgemaak en afgeskei word van ons diensvaardigheid en gehoorsaamheid aan God nie. Dit moet die gelowige se grootste wens en vreugde wees om die wil van God ten uitvoer te bring.

Daarom vind die gelowige Christen juis sy vreugde en troos in die lewe wanneer hy God voluit dien. Hierdie vreugde en troos is 'n genadegawe van God. Want al sou jy alles besit wat jou hart begeer, sou jy jouself nooit werklik gelukkig voel solank as wat jou lewe nie aan God toegewy is nie.

En tog is dit juis die droewige werklikheid dat ons van nature geen lus het of geen drang het om God se wil te doen en Hom te dien nie. Inteendeel, ons is geneig om die wêreld te probeer win en onsself te behaag. Ons wil onsself nie verloën ter wille van God nie.

Daarom is ons so dankbaar as God deur sy Gees ons harte verander en daar by ons 'n innerlike behae ontstaan om Hom te dien. Hoe groot is die sielevreugde nie as ons God nie net uiterlik met die lippe dien nie, maar met ons hele hart. Eers dan kan ons sê dat ons beker oorloop van God se goedheid en guns (Ps 23:5 en 6) .

Nogtans besef die gelowige dat hy so oneindig vér te kort skiet en soos Paulus sê: “Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek.” (Rom 7:15 1983 - vertaling). Dit is die stryd wat elke mens het met die sonde wat in hom woon. Maar dan kom Paulus by die kern van die saak as hy sê: “Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God ”(Rom 7: 22 – 1983 vertaling).

Uit: Die Vaste Fondament - Dr SJ van der Walt (verkort).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css