Die Weg

 

Verdoemenis, bevryding, dankbaarheid (1)

Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!" - Ps 139 :23-24 (1953 vertaling).

In 'n vorige boodskap het ons gepraat van die saligheid wat ons deur Christus Jesus verkry het. Maar om werklik tot die besef te kom wat dié saligheid werklik inhou, moet ons eers na onsself kyk en 'n besef kry van die grootheid van ons sondes en ellende. Ons stapel immers die een sonde op die ander totdat dit hemelhoog is: sondes van gedagtes, woorde en dade. Ons doen elke dag soveel dinge wat ons wéét ons nie moes gedoen het nie. Ons hele lewe is gebrekkig en verdraaid. Ons struikel elke dag maar weer. Ons leef vér weg van God en ons Vaderhuis af – ons dwaal steeds verder weg in die woestyn van die sonde. En só sterf ons eindelik eensaam en verlate op die vlaktes van verlorenheid. Ons sink weg in die ewige dieptes van ellende, in die swarte afgrond van die verderf.

Ja waarlik, die mens is ellendig. Sonder Christus is hy ook sonder hoop en sonder God in wêreld (Ef 2:12). God het die mens na sy beeld geskep (Gen1:27) en as kind van God kon hy 'n innige gemeenskap met sy Hemelse Vader gehad het. Hy kon deel gehad het aan ongekende en onpeilbare geluksaligheid. Maar die mens het dit anders verkies en as gevallene is hy die ellendigste van alle skepsele (vgl Luk 15:11- 32). Hy is nou vatbaar vir groter ellende as enige ander wese wat God gemaak het.

En nou is dit nog die grootste van al sy ellende dat hy sy eie ellende nie ken nie. Hy leef in 'n roes van ingebeelde geluk wat nie bestaan nie. Hy is met homself tevrede en probeer sy eie heil uitwerk op aarde. Hy meen dat hy God nie nodig het nie en gaan só met oop oë die graf en die verderf tegemoet. Hy besef nie dat die sonde hom soos 'n kanker verteer nie. Hy is melaats van die sonde terwyl hy dink dat hy gesond en sterk is.

Daarom moet ons God steeds bid om ons oë oop te maak vir die verskriklike toestand waarin ons verkeer. Dit is eers wanneer ons 'n blik gekry het in die graf en die verderf waarheen ons op pad is, dat ons sal skrik en bewend God se genade in Christus sal aangryp. Daar is niks gevaarliker nie as om in valse gerustheid te lewe nie. Mag God deur sy Gees ons oë betyds oopmaak !

Saam met die Psalmdigter moet ons gedurig bid: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!" (Ps 139:23-24).

Dit is eers wanneer die Son van Geregtigheid oor ons opgaan dat ons werklik onsself leer ken en skrik vir ons ellende.

(word vervolg – die bevryding)

Verwerk uit: Die Vaste Fondament - Dr SJ van der Walt.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css