Die Weg

 

Verdoemenis, bevryding, dankbaarheid (2)

(vervolg vanaf die vorige boodskap)

“Hy is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat ‘n hoeksteen geword het. En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie. “ - Handelinge 4:11-12 (1953 vertaling).

As God dan deur sy Gees ons oë oopmaak sodat ons die diepe ellende sien waarin ons verkeer, sal ons na 'n uitvlug begin soek. Ons sal probeer om genesing vir ons dodelike sielskrankheid te verkry. As ons agterkom hoe magtig Satan is en hoe sterk die stroom van die wêreld is, sal ons begin soek na Een wat sterker is as die duiwel en al sy magte. As ons ons tragiese verlorenheid voel, sal ons ingebore Godsbesef weer na vore tree en sal ons begin verlang na die Vaderhuis en ons hemelse Vader.

Ons siel sal nooit kan rus voordat ons nie dié Een gevind het wat ons kan verlos uit die strikke van die dood en pad na die verderf nie. Tot dié dag wanneer die lig vir ons deurbreek en ons kan sê: “Ek weet: My Verlosser leef!” (Job 19:25).

Daarom kan ons God nooit genoeg dank dat Hy vir ons die Verlosser gestuur het en dat Hy deur sy Woord hierdie Heiland aan ons bekend gemaak het nie. Dink net hoe ontsettend dit sou wees as ons, terwyl ons bewus is van ons ellende, in hierdie ellende moes bly lê sonder om ook 'n weg van verlossing daaruit te kon sien. Dan sou dit beter gewees het dat ons maar in onkunde bly voortleef het in 'n valse, ingebeelde Utopia. Dit sal 'n mens kranksinnig maak as jy jou ware toestand besef, terwyl jy daarby geen hoop, geen lig, geen uitkoms sien nie – net 'n donkere wanhoopsnag na alle kante. Dit is daarom dat die Skrif ons leer dat die goddeloses die berge en heuwels sal vra om hulle te bedek wanneer hulle besef dat God se oordeel hulle gaan tref as die tyd vir genade verby is (Luk 23:30).

Maar ons God het deur sy genade vir ons verlossing gebring te midde van sy oordele. By die kruis van Golgotha het die helder lig begin skyn in die donker doodsnag van ons sonde-verlorenheid. Dáár is die poorte van die dood en die verderf vernietig sodat ons uitkoms uit die dood sou verkry. Daar het ons Verlosser, met sy bloed, die ewige, ware offer vir ons sondes gebring om ons met God te versoen (vgl Heb 5).

Mag ons dan net so 'n duidelike blik kry van God se genade as van sy oordele! Mag die gedagtenis aan die kruis ons staande hou in die dieptes van ellende, sodat ons nie in wanhoop versink nie. Mag ons steeds meer en meer voel hoe eindeloos groot God se genade in Christus is en watter wonderlike verlossing Hy vir ons teweeggebring het!

(word vervolg – dankbaarheid)

Verwerk uit: Die Vaste Fondament - Dr SJ van der Walt.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css