Die Weg

 

Ons burgerskap is in die hemel

Want ons het hier geen blywende stad nie, maar ons soek die toekomstige.” - Hebreërs 13:14 (53-vertaling).

Alles op hierdie aarde is verganklik. Die hardste rots verweer met die tyd en geboue wat eens op 'n tyd die prag en praal van die mens se handewerk was, val inmekaar of word gesloop om plek te maak vir nuwe bouwerk. Oor die mooiste en geëerdste menslike liggaam klink uiteindelik die woorde: “Stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer." Want ons verblyf op hierdie aarde is net tydelik en ons is op weg na 'n ander en beter oord.

Die aarde is nie ons tuiste nie. Ons is vreemdelinge en bywoners op hierdie aarde (Heb 11:13). Ons moet dus daarteen waak dat ons ons tentpenne te diep wil inslaan. Die wêreld het soms 'n byna oorweldigende bekoring, selfs vir die kind van die Here. Veral terwyl ons nog baie lewenskragtig is word ons so oorweldig deur die glans van tydelike voorspoed, dat ons die gevaar loop om te vergeet dat die aarde nie ons tuiste is nie. Die apostel Petrus sê: “ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel” (1 Pet 2:11). Jesus sê: “Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie.” (Mat 6:19).

Ons het nog nie gearriveer nie, en daarom mag ons nie nou al rus nie. In Openbaring sê die stem aan Johannes: 'Geseënd is dié wat van nou af in die Here sterwe. “Ja” sê die Gees, “hulle sal rus van hulle arbeid, want alles wat hulle gedoen het, volg hulle” ' (Open 14:13, 83-vertaling).  Een van die seëninge van die kind van die Here is die ewige rus. Rus nie van diens nie, maar van arbeid, dws van die onaangename sleurwerk van die aardse bestaan. Solank ons egter op aarde is, durf ons die stryd teen Satan, die wêreld en die vlees nie opgee nie. Ook nie ons dienswerk aan die Here nie: “God is nie onregverdig nie: Hy sal julle werk nie vergeet nie en ook nie die liefde wat julle vir sy Naam betoon het deurdat julle julle medegelowiges gedien het en nog dien nie.” (Heb 6:10, 83-vertaling). Geen afgematheid, ontmoediging of teleurstelling mag die Christen-krygsman die wapen laat neerlê voordat die Meester nie self die bevel daartoe gegee het nie.

Ons moet uit die geloof lewe.Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” (Heb 11:1).  Dit is juis deur die geloof dat die dinge van die ewigheid innerlik ons deel en eiendom word. Dit is die vermoë van die siel om omgang te hê met die onsienlike en toekomstige dinge. So word dit vir die kind van die Here moontlik om, hoewel hy in die wêreld is, tog nie van die wêreld te wees nie (vgl Joh 17:14). Met nadruk se die apostel Paulus: “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus" (Filip 3:20).

Mag die Here ons genade gee om te onthou dat ons nie kinders van die tyd is nie, maar van die ewigheid.

Ds F S Malan: Lig vir die lewenspad (verwerk)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css