Die Weg

 

Om die onsigbare te kan sien

Omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.” - 2 Korintiërs 4:18 (53-vertaling).

Die lewe van die Christen word nie beheers deur die sigbare dinge nie, maar deur die onsigbare. Die sigbare dinge het immers net verbygaande waarde en bevrediging. Die onsigbare dinge daarenteen is ewig, maar kan slegs met die geloofsoog gesien en deur die geloof aangeneem word. Daarom is die Christelike lewe 'n geloofslewe.

Deur die geloof sien ons:

=> Ons hemelse Vader. In Hebreërs 11:27 lees ons dat Moses Egipte verlaat het sonder vrees vir die toorn van die Farao, “want hy het volgehou soos een wat die Onsienlike sien." Dit is die Wonderkrag van die geloof. Immers, die verlossing van die mens sluit in 'n helder beeld van God, 'n onvoorwaardelike terugkeer tot God en 'n kinderlike berusting in God. Dan word die belofte van Christus in daardie mens vervul: “Ons sal na hom kom en by hom woning maak" (Joh 14:23). Waarlik, die geloof is 'n wonderlike genadegawe. Die gelowige sien wat ander nie kan sien nie. Hy sien God in alles. Selfs in tye van nood, lyding of stryd is hy sterk, want hy is soos een wat die Onsienlike sien.

=> God se ewige verlossingsplan. “Wat ons verkondig, is die wysheid van God, die verborge waarheid wat bedek was en wat God van ewigheid af vir ons voorbestem het tot ons ewige heerlikheid..... Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie, en wat in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet.” (1 Kor 2:7-9). God se heilsplan is van ewigheid af reeds in sy raadsplan opgeneem. Lank voor die bestaan van die mens was daar dus reeds voorsiening gemaak vir sy verlossing. Hierdie verlossingswerk is ten uitvoer gebring in die volheid van die tyd met Christus se koms na die aarde. God se verlossingsplan is een van die onsigbare dinge wat vir elke mens van die allergrootste waarde is. En deur die geloof het ons deel daaraan.

=> Ons toekomstige woonplek. Ons is vreemdelinge en tentbewoners op hierdie aarde. Ons verblyf is net tydelik “want ons het hier geen blywende stad nie." (Heb 13:14). Ons is dus op pad na 'n toekomstige, onbekende, onsigbare woning.

Die wêreldling kan hierdie dinge nie begryp nie, en die gedagte aan die verganklikheid van die mens skep by hulle vrees en onrus. Vir die kind van God hou dit egter geen vrees in nie, want soos Abraham verwag ons die stad “wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is." (Heb 11:10). Saam met Paulus sê ons: “Ons weet dat, as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons 'n gebou het van God, 'n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele." (2 Kor 5:1).

Ds F S Malan: Lig vir die lewenspad (aangepas)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css