Die Weg

 

Die sin van ware revolusie

Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” - Johannes 3:3.

Daar is twee soorte revolusies: goeie revolusies en slegte revolusies. 'n Slegte revolusie neem iets wat reeds op sy pote staan, keer dit om, en sit dit op sy kop. 'n Goeie revolusie is die omgekeerde: dit neem iets wat onderstebo staan en sit dit regop sodat dit op sy pote kan staan. Die vraag is of 'n revolusie die slegte omkeer na die goeie, sodat die goeie kant bo kom, en of dit die goeie omkeer na die slegte, sodat die slegte kant bo kom. Daar was in die verlede ook al baie revolusies wat sowel slegte as goeie kante gehad het.

In revolusies gaan dit altyd om bevryding van een of ander aard. Dink maar aan die Franse revolusie met die leuse: “vryheid, gelykheid en broederskap”. Net so wou die Russiese revolusie bevryding bring van die kapitalisme en die tsarisme. Ons hoef niks te vertel wat dit alles in die praktyk ingehou het en die leed wat dit veroorsaak het nie. Almal wat die geskiedenis ken, weet dit.

Dit is 'n feit dat daar in hierdie wêreld baie onregverdige sosiale, ekonomiese en politieke strukture is. Die evangelie roep ons op tot bevryding, soos wat Israel bevry is deur die uittog uit die skandelike strukture van Egipte.

Maar ons moet nie vergeet dat sondige strukture nie uit die lug uit val nie. Uiteindelik is hulle gemaak en word hulle in stand gehou deur mense wat hul eie- en groepsbelang stel bo die algemene belang, en ten koste van die swakkeres. En dié wat daaraan skuldig is, het 'n verkeerde hart. Jesus gaan terug na die diepste oorsaak van ellendige omstandighede. Hy gaan terug na die verkeerde, sondige mens self, wat as gevolg van sy eie egoïsme, alles omkeer, met die verkeerde kant na bo.

Die revolusie of omkering waarvan Jesus praat is die wedergeboorte, waardeur 'n mens nuut gemaak word deur die Gees van God . Hiér begin die ware bevryding. 'n Nuwe wêreld met nuwe strukture sonder nuwe mense sal kort voor lank weer soos die ou wêreld lyk; net met 'n nuwe naambordjie. Dit is alleen waar God weer Koning is dat alles werklik nuut word.

(Word vervolg)

Ds J Overduin in Bevrijding:Bijbels dagboek
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css