Die Weg

 

Om Christus te ken

“Al wat ek wens, is om Christus te ken” - Filippense 3:10.

'n Mens kan Christus alleen ken as jy intiem met Hom saamleef. En daar is niks misterieus daaraan nie. Maar daar is wel sekere voorwaardes verbonde aan intimiteit tussen die hart van Christus en die hart van die mens. Een daarvan is die vermoë om rustig te kan wees: “Bedaar en erken dat Ek God is” (Ps 46:10). Christus was nooit angstig en gejaagd in sy optrede nie. Hoe kan ons dan selfs ander mense leer ken as daar altyd 'n geraas, 'n gewoel en haas in alles is. Daarom is een van die redes waarom so baie van ons God nie goed ken nie, omdat ons so besig is. Ons is soos 'n baie junior klerk in 'n groot besigheidsfirma. Ons het 'n baas vir wie ons werk, maar ons ken hom nie. En soms sal ons hom nooit eers leer ken nie, al jaag ons voort om hom te probeer beïndruk. In die firma (ryk) van Christus is ons almal vennote (deelgenote). Dáár is niemand vir wie ons hoef te beïndruk nie. Laat ons daarom tyd maak om stil te word. "Net by God vind ek rus" (Ps 62:6).

Maar dit is meer as net rustigheid. Want rustigheid beteken nie om net te sit en niks te doen nie. Rustigheid is nie 'n sinoniem vir luiheid nie. Want ons moet ook gemeenskap hê met Christus. Dit beteken dat alhoewel rustigheid noodsaaklik is, ons in vennootskap staan met God in sy verlossingswerk. Met Christus vooraan as ons Leidsman. Ons kan dit aan die hand van 'n eenvoudige voorbeeld illustreer: Die vrou van 'n chirurg mag haar man ken. Maar sy ken hom net as man. Sy ken hom nie in sy posisie as chirurg nie. En hy is 'n chirurg sowel as haar man. Sy ken hom nie soos die teatersusters, óf die verpleegsters, óf die pasiënte nie. Sy ken hom nie in sy werksomstandighede nie - en hy werk die grootste deel van sy lewe. Sy is nie 'n vennoot in sy arbeid nie.

Ek wil met eerbied sê dat jy God nie werklik sal ken nie, dat jy Christus nie werklik sal ken nie, tensy jy ook saam met Hom werk. Dít is waar jy Hom werklik sal leer ken, want Hy werk altyd.

Ken ons Christus werklik? Het ons al saam met Hom gewerk?

George B Duncan. Spiritual Priorities, 1951
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css