Die Weg

 

Op weg met Christus (2)

(vervolg van die vorige boodskap)

Toe hulle by die dorpie aankom waarheen hulle op pad was, het Hy gemaak of Hy verder wou gaan. Hulle het egter by Hom aangedring en gesê: “Bly by ons, want dit is amper aand en die dag is al verby.” Toe het Hy ingegaan om by hulle oor te bly. Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn.” - Lukas 24:28-31.

Hulle het by hulle bestemming aangekom, en “Hy [het] gemaak of Hy verder wou gaan”. Alhoewel Hy graag by hulle sou wou ingaan, wou Hy Hom nie aan hulle opdring nie. Hy wou hê dat die uitnodiging uit hulle harte moes kom: 'Hulle het egter by Hom aangedring en gesê: “Bly by ons, want dit is amper aand en die dag is al verby.Toe het Hy ingegaan om by hulle oor te bly.'

(As ons dit toepas op ons lewe vandag: Hoe baie van ons laat Jesus gaan die oomblik wat ons moeilike weg tot 'n einde kom? Ons was in die nood, het stowwerige paaie bewandel, was hartseer en het ons verheug in die begeleiding van Jesus. Maar wanneer ons weer in 'n gemaklike lewensfase ingaan, nooi ons die Here nie in om by ons te bly nie en vergeet ons van Hom.)

Baie mense sê hulle verlang na rus na 'n vermoeiende en uitputtende week, wanneer gaste nie welkom is nie. Die dissipels van Emmaus kon sekerlik so geredeneer het. Hoe uitputtend was die afgelope paar dae nie gewees nie! Hulle is emosioneel gedreineer, die beroering rondom die dood van Jesus, die hartseer en onsekerheid. Hulle het baie redes gehad om te kon sê: "Liewe vreemdeling, ons het nou 'n bietjie rus nodig. Ons het nie nou enige krag vir gaste nie".

Maar hulle het nie net vir Jesus gevra om as gas oor te bly nie, maar ook die gasheer te wees. Want Hy het gedoen wat die heer van die huis moes doen: “Hy neem die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle.”

En toe Hy die seën vra, die brood breek en dit aan hulle gee, gaan hulle oë oop sodat hulle Hom herken! Dit is eers nadat Jesus die brood gebreek het dat hulle werklik besef het wat besig was om te gebeur. Hulle was soort van gefassineer deur hierdie vreemdeling. Maar toe Hy die brood gebreek het, het hulle begryp wie Hy was. Hulle oë het oopgegaan. Hulle kon nou insien hoe al die gebeure bymekaar inpas. Daar het vir hulle 'n lig opgegaan. So gebeur dit ook vandag nog!

En toe die twee dissipels teruggekyk het, het hulle gevind dat hulle albei dieselfde ervaar het. Hulle het gesê: “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?” (v 32). Dit is een van die groot tekens van die genade van God: Daar kom nuwe lewe in die menslike gees, en daar skyn 'n nuwe lig. Dan het ons nie meer trae harte nie, maar getransformeerde, brandende harte.

Dit was ook die ondervinding van John Wesley. Hy skryf soos volg oor sy ondervinding op  24 Mei 1738: “Dié aand het ek baie onwillig 'n vergadering in Aldersgatestraat (Londen) bygewoon. Daar het iemand uit die voorwoord van Martin Luther oor die Romeinebrief voorgelees. Dit was ongeveer kwart voor nege toe God in my hart die verandering deur die geloof teweeg bring en ek voel hoe my hart begin brand......” Die volgende oggend skryf hy: “Toe ek wakker word was Jesus die Here in my hart en my mond”.

Die lig het dalk nie so dramaties by ons deurgebreek nie. Maar as die hart begin brand, dan is dit gewoonlik die teken dat die lig vir ons deurgebreek het. Dit is dán dat jy sien Jesus is alles. Het jy 'n brandende hart vir Jesus?

(word vervolg)

P Christian Wegert (Ein Fussmarsch mit Jesus - Teil II) (verkort)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css