Die Weg

 

Soos Jesus gesê het ....

'Toe sê die engel vir die vroue: “Julle moet nie bang wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek, soos Hy gesê het. Kom nader en kyk: daar is die plek waar Hy gelê het.' - Matteus 28:5-6.

"Soos Jesus gesê het ..." Hoeveel waarde heg ons aan Jesus se woorde? Was Hy dalk net 'n Joodse geleerde, of liefdevolle vriend, of iemand wat vertroos as mense in die nood is? Nee, sy woorde sê Hy is Hy meer! Sy WOORDE was en is van groot waarde. Die gebeure na sy kruisiging beklemtoon dit!

Op die krisis-oomblik van Jesus van Nasaret se bestaan, toe Hy wreed doodgemaak is, was dit sy woorde wat onthou moes word. En dit was veral die mense wat die naaste aan Hom geleef het, wat belangrike dinge wat gesê is, vergeet het!

Omdat sy woorde vergeet is ..

=> Het die Maria's Sondagoggend met reukolie by sy graf opgedaag - met goeie bedoelings, maar 'n kort geheue.
=> Wou die dissipels aanvanklik nie glo wat oor Jesus se leë graf gesê is nie - en het bang weggekruip.
=> Het die Joodse leiers met die Romeinse owerheid saamgesweer om 'n leuen oor die leë graf die wêreld in te stuur.

Toe die vroue by Jesus se rotsgraf opgedaag het, het 'n aardbewing en verskyning van 'n hemelse wese in sneeuwit klere hulle edele bedoelings kortgeknip. God se gestuurde engel bou 'n brug na die waarheid oor Jesus. Hy het gesê: "Moenie bang wees nie ... Julle soek die gekruisigde Jesus ... Hy is nie hier nie ... Kom kyk na die leë graf ..."

En dan die BELANGRIKSTE BOODSKAP daardie oggend uit die hemel: "Hy is uit die dood opgewek, SOOS HY GESÊ HET!"

Nie minder nie as drie maal het Jesus vooruit vir sy volgelinge gesê dat Hy doodgemaak sou word, MAAR dat Hy op die derde dag opgewek sou word (Mat 16:21; 17:22-23; 20:19). In die geskokte toestand oor Jesus se vernedering, verwerping, lyding en dood, het sy naastes dit vergeet. Die alwetende God, wat weet wat ons deurmaak en hoe maklik ons vergeet, herinner die vroue, sy dissipels, sy vyande ... en ons ... Waaraan? AAN JESUS SE WOORDE.

ONTHOU TOG: JESUS IS MEER as geleerde rabbi, vriend of trooster in nood - Hy is die Christus, die Here, Seun van God, ons Verlosser. Sy opstanding uit die dood bevestig dit!

Verfris dan tog voortdurend jou geheue. Lees met aandag die evangelies. Memoriseer jou Here Jesus se woorde. Die waarheid is gesê en neergeskryf. Dit versterk ons geloof, waardeur ons deel het aan die ewige lewe.

Dr. Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css