Die Weg

 

Wag vir die dag van die Oes

Soos die onkruid bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit by die voleinding van die wêreld wees. Die Seun van die mens sal sy engele stuur, en hulle sal uit sy koninkryk verwyder almal wat ander mense in sonde laat val, en almal wat die wet van God oortree, en sal hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners. Dan sal die gelowiges in die koninkryk van hulle Vader skitter soos die son.” - Matteus 13:40-43.

Dit handel hier om die gelykenis van die onkruid tussen die koring (Mat 13:24-30). Die vraag wat elkeen seker al baie kere gevra het, is: “waarom laat God die bose werke van die mense nog toe?”

God is lig (1 Joh 1:5) en Hy het ook sy skepping begin met lig. En sy ewige lig sal onbeperk skyn tot by die voleinding. Maar teenoor God se ewige lig staan die duisternis van die Bose. En in ons daelikse lewe ervaar ons hoe die duisternis om hom heen gryp, hoe mense se lewens verwoes word, hoe geweld ongeluk en rampe oor mense bring en die Bose skynbaar al hoe meer die oorhand kry. Soos die onkruid in die gelykenis dreig om die goeie koring te verdring, so sit die Bose in die harte van die mense en probeer om die goeie, wat in lewende gemeenskap met God groei, te verstik en te oorwin.

Ek kan die kommer van die arbeider verstaan wat die Bose vroegtydig sal wil uitroei voordat dit tot 'n vernietigende mag ontwikkel. Maar God, in sy almag, laat die Bose sy gang gaan tot op die dag van die oes, wanneer die groot oordeel voltrek sal word, en “die gelowiges in die koninkryk van hulle Vader [sal] skitter soos die son” (Mat 13:43). Geduldig wag Hy op wat in die harte van die mense groei - reg of onreg. Want soms ja, word onheilstigtende mense tog nog kinders van die lig. “Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.” ( 2 Pet 3:9).

P Ramona Uhleman, Dohna, Sakse, Duitsland
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css