Die Weg

 

'n Herstelde verhouding met die Here bring ware geluk

Toe ek oor my sonde geswyg het, het my liggaam uitgeteer soos ek heeldag om hulp geroep het....... Toe het ek my sonde bely, my oortreding nie weggesteek nie ..... Die goddelose het baie smarte, maar wie op die Here vertrou, dié omvou Hy met sy liefde” - Psalm 32:3-10.

Wat maak jou gelukkig? Is dit wanneer jy op stoflike gebied alles het wat jou hart begeer, of is dit wanneer mense jou goed behandel? As dit al is wat jou gelukkig maak, sal jy voortdurend soek na nuwe en beter dinge en groter eise stel aan mense om jou gelukkig te maak. Dit is soos 'n seepbel wat jy jaag, maar as jy daaraan raak bars dit. Jy hunker na dinge en as jy dit kry, kom jy agter dit maak jou nie werklik gelukkig nie.

Dawid sê in Psalm 32 jy is baie gelukkig wanneer jou verhouding met die Here herstel is. Dawid het alles gehad wat sy hart begeer het, en tog was hy 'n diep ongelukkige mens. Sy sonde en skuld het afstand gebring tussen hom en die Here, omdat hy daaroor geswyg het.

Die keerpunt in sy lewe en wat vir hom bevryding gebring het, was toe hy sy sonde opreg en met berou voor die Here bely het. Op hierdie skuldbelydenis volg dan ook sy belydenis van sekerheid dat die Here sy skuld vergewe het.

Alleen in 'n herstelde verhouding met die Here is ware en blywende geluk moontlik. Hy het reeds sy Seun gestuur om jou verhouding met Hom te herstel. Hy het al jou skuld op Hom geneem en dit ten volle betaal. Gaan daarom met vrymoedigheid na Hom toe en bely jou skuld eerlik en opreg voor Hom. Aanvaar sy vergiffenis. Dit bring verligting en bevryding en ook vrede en geluk in jou hart.

Ds C Kruger

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css