Die Weg

 

Strome op die dorsland

“Ek sal volop water gee op die dorsland, strome op die droë grond. Ek sal my Gees uitgiet op jou kinders, my seën op jou nakomelinge.” - Jesaja 44:3.

Omdat hulle almal vir Moses gevolg het, is hulle almal in die wolk en in die see gedoop. Almal het dieselfde geestelike voedsel geëet, en almal het dieselfde geestelike drank gedrink: hulle het gedrink uit 'n geestelike rots wat met hulle saamgegaan het. Die rots was Christus.” -  1 Korintiërs 10: 2-4.

Die volk Israel het gedurende hul omswerwinge deur die woestyn telkemale dors gely omdat daar nie water was nie. Dan het hulle in opstand gekom teen Moses en Aäron en ook teenoor God. In Numeri 20:4 lees ons van die volk se versugting: “En waarom het julle die vergadering van die HERE in hierdie woestyn gebring, dat ons en ons vee daar sou sterwe?” Maar dan voorsien die Here weer. By Kades laat Hy water uit 'n rots vloei nadat Moses die rots met sy staf geslaan het. Maar die volk kon nie vir altyd by Kades bly nie. Die Here het 'n doel met sy volk en hulle moes verder trek. En dan was hulle weer omring deur die dorre woestyn met nêrens 'n oase of stroom water te sien nie.

Weer voorsien die Here. Hy laat die volk bymekaarkom by die droë put van Beër. Die leiers van die volk word aangesê om met hulle septers en kieries te grawe terwyl die volk saam sing: “Put, lewer jou water, en ons sal daarvan sing! Put wat deur leiers gegrawe is, wat deur vernames van die volk oopgemaak is met septer en kierie.” (Num 21:17-18; 83-vertaling). En terwyl hulle dit doen begin die water uit te borrel sodat die volk daarvan kon drink en kon sing, en hulle verwonder.

Ons kan dit in verband bring met die beeld wat Paulus in 1 Korintiërs 10 gebruik: “hulle het gedrink uit 'n geestelike rots wat met hulle saamgegaan het. Die rots was Christus.” Op hulle omswerwinge deur die woestyn was die water daar, hulle kon dit net nie sien nie. So ook kon hulle God nie met hul oë sien nie. Al wat hulle moes doen was om te handel volgens God se woord. Die water was daar, maar om die strome van water te laat vloei, moes hulle van hulle kant self iets doen (Moses moes die rots slaan, die leiers moes in die sand grawe en die volk moes in geloof saam sing en die leiers bemoedig).

Hierdie is 'n baie mooi beeld van Christus se voorsienende genade deur die werking van die Heilige Gees! Sy belofte van die lewe en saligheid volg ons dwarsdeur ons eie woestynreis deur die lewe, totdat ons self eendag die Beloofde Land sal binnegaan. Net soos die Israeliete nie die water gesien het nie, terwyl dit tog daar was, so sien ons nie die Gees nie, terwyl Hy by en met ons is. Wanneer ons voel dat die wêreld ons wil onderkry of dat versoekinge vir ons te erg word, moet ons onthou ons het 'n geestelike rots, Christus, wat ons met die water van die lewe sal voorsien. Ons moet ons net na Hom toe wend:  “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.” (Joh 7:37-38).

Soos Prof HDA du Toit dit gestel het: “Om te grawe, is nie altyd aangename werk nie. Ruimte moet in die sand van ons lewe gemaak word, sodat daar plek kan wees vir Sy Gees. As ons gewillig is, God is getrou om die fontein van lewe in die dorsland te skenk.”

- dw -

(Met erkenning aan Prof HDA du Toit: Na die eis van elke dag)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css