Die Weg

 

Watter hoop is daar as regerings teleurstel?

Jesus het gesê: “Hoe is die koninkryk van God? Waarmee kan Ek dit vergelyk? Dit is soos 'n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy tuin geplant het. Dit het gegroei en 'n boom geword, en die voëls het in sy takke kom nes maak.” - Lukas 13:18-19.

Die Koninkryk van God is 'n abstrakte begrip. Dit het nie sigbare grense nie, is sonder 'n paleis en troon. Jesus se luisteraars het verwag dat daar 'n Messias sou kom wat die koningskap van Dawid vir Juda sou herstel. Dan sou hulle weer spiere bult teen die Romeinse ryk en sy keiser.

Johannes die Doper en Jesus Christus het albei gepreek: “Bekeer julle, want die koninkryk van God het naby gekom.” Daarom vra en beantwoord Jesus sy eie vraag: “Hoe is die koninkryk van God? Waarmee kan Ek dit vergelyk?” (Lukas 13:18). Wanneer Hy begin antwoord, was daar dalk teleurstelling by die Jode. Daar was bekende beelde vir die koninkryk van God, soos 'n leeu of 'n koninklike septer. Jesus verras deur te sê: “Dit is soos ’n MOSTERDSAADJIE wat iemand gevat en in sy tuin geplant het. Dit het gegroei en ’n boom geword, en die voëls het in sy takke kom nes maak.”

Watter hoop is daar as regerings teleurstel?
Baie gelowiges hunker vandag ook na 'n tipe regering en heerser wat betroubaar is, wat met gesag die waarheid verdedig, wat die kwaad beveg, wat hoop vir die toekoms gee. Dan is ons geneig om te fokus op die wêreldse koninkryke, wat meestal maar voete van klei het. Ons raak moedeloos en opstandig wanneer daar nie iets beters na vore kom nie. Die Woord lei ons vandag terug na 'n koninkryk met spesiale eienskappe, 'n heerskappy wat nie van mense se prestasies afhanklik is nie.

Die MOSTERDSAADJIE dra 'n belangrike boodskap oor. Vir die Jode destyds sê Jesus dat sy koninkryk van die hemel nie met groot deurbrake, oorloë en oorname van die keiser se ryk gepaard gaan nie. Inteendeel, die koninkryk se verskyning is klein soos 'n mosterdsaadjie. Byna onsigbaar vir die persone wat na groot gebeure soek. Tog is daar 'n wonderlike eienskap in die mosterdsaad, wat ook waar is van die koninkryk van God. Dit het groeikrag! Dit lewe! Dit bly nie klein nie, dit ontkiem en groei tot 'n boom of bos. Die koninkryk word skuilplek en woonplek vir baie, soos die mosterdplant vir voëls se neste.

Die groeiende koninkryk van God sedert die koms van die ware Messias, sien ons in die uitdra van die evangelie van die Koning Jesus Christus. Klein het dit begin, geweldig is die invloed op mense wat verlossing gevind het. Die koninkryk van Jesus word nie deur landsgrense beperk nie. Waar mense tot geloof in Hom gekom het, word sy norme en waardes deel van opvoeding, handeldryf, regering, kuns en landbou. Dit wat 'n handjievol mense by Jesus gesien en geleer het, is vandag vir sy koninkryksburgers dwarsdeur die wêreld 'n maatstaf vir reg en geregtigheid.

Hoe kan ons binne ons eie leefwêreld die Koninkryk dien?
Deur aan te hou om te saai. Al is dit klein saadjies, soos die mosterdsaadjie, die groeikrag kom van God. In die koninkryk van God is ons hoop en sekerheid, want dit sal tot sy volheid groei wanneer die Koning weer kom om alles onder sy heerskappy te vestig.

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)  - Teken hier in
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css