Die Weg

 

Die Koninkryk van God – soos suurdeeg!

Jesus het gesê: “Hoe is die koninkryk van God? Waarmee kan Ek dit vergelyk? Dit is soos 'n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy tuin geplant het. Dit het gegroei en 'n boom geword, en die voëls het in sy takke kom nes maak.” Verder het Hy gesê: “Waarmee kan Ek die koninkryk van God vergelyk? Dit is soos suurdeeg wat 'n vrou geneem en in twintig kilogram meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was.” - Lukas 13:18-21.

Die koninkryk van God is anders as die koninkryke van die wêreld. Die wêreldse koninkryke wil met groot magsvertoon mense beïndruk. Wapentuig, aardse skatte, geweldige projekte – indrukwekkend! Oor die koninkryk van God het Jesus gepreek: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom!”. Daarom het die mense gevra: “Hoe is die koninkryk van God?” En Jesus het geantwoord: “Soos suurdeeg!”. Eers het Hy met die manne, die landbouers, gepraat sodat hulle iets van die andersheid van sy koninkryk kon begryp: Die koninkryk is soos 'n mosterdsaadjie. Nou praat Jesus met die huisvroue, die baksters, met 'n simbool uit die kombuis. So maklik kan ons die aard van die hemelse koninkryk, wat op aarde deurgebreek het, verstaan. Ons hoef nie groot formules uit te dink, ruimtetuie te stuur om soektogte te doen nie, nie dik dogmatiekboeke te skryf nie. Nee, dit is binne ons bereik om te verstaan hoe die koninkryk van God is. SOOS SUURDEEG!

Hoe is suurdeeg?
Suurdeeg is noodsaaklik, al is dit nie opvallend nie. As daar nie suurdeeg is nie, sal die deeg nie rys nie. As die suurdeeg nie sy werk doen nie, kan ons nie die brood eet nie. Daarom het Jesus die koninkryk van God hiermee vergelyk: “Dit is soos suurdeeg wat ’n vrou geneem en in twintig kilogram meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was.” (Luk 13:21). 'n Klein bietjie suurdeeg vir 'n 20 kg skottel meel! Letterlik weggesteek in die meel. 'n Mens sien dit na 'n tydjie nie eens nie, want dit dring die deeg binne. Tog werk dit kragtig, sodat die 20 kg meel uitrys tot genoeg deeg vir brood, waarmee baie mense gevoed kan word.

Hoe is die koninkryk van God?
So is die koninkryk van God, soos suurdeeg. Dit begin klein en onopvallend - by 'n krip in Bethlehem, by 'n skrynwerker van Nasaret se huis, by 'n paar vissermanne, by verworpe sondaars, melaatses, verlamdes en dowes, wat verlossing ontvang. Soos 'n klein bietjie suurdeeg in die meel van 'n vyandige Joodse gemeenskap; later in die groter skottel meel van die Romeinse Ryk. Jesus Christus knie die suurdeeg in die mensdom in. Koninkryksburgers ly soos suurdeeg wat met geweld ingewerk word. Die evangelie werk egter kragtig, rys uit en gee lewensbrood aan groot getalle.

Die KONINKRYK VAN GOD kom op 'n ander manier as wat mense verwag. Soms klein en byna onsigbaar. Tog werk dit daar waar dit in geknie word. Jesus het opgevaar om die heersersposisie aan die regterhand van sy Vader in te neem. Nou werk Hy deur mense wat deel geword het van sy koninkryk. Jy en ek kan die koninkryk-suurdeeg nog verder in knie in gemeenskappe. Die versekering is daar, dat dit sal uitrys en die hemelse ryk op aarde laat groei. So werk ons mee in die koms van die koninkryk. Tot op die dag wanneer die Koning Jesus Christus weer kom om alles tot volheid te bring.

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief) - (Teken hier in)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css