Die Weg

 

Kan ek regtig nie help dat ek gesondig het nie?

“Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet. Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: “Ek word deur God versoek” nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. Maar 'n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.” - Jakobus 1:12-15.

Kan ons (regtig) onskuldig pleit wanneer ons besef dat ons te vêr gegaan het? Hoe dikwels skuil ons nie agter hierdie woorde nie: Dit het sommer net so gebeur, ek kon dit nie keer nie!

Luister hoe beskryf Jakobus vir ons die proses van “te vêr gaan”: Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: “Ek word deur God versoek” nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. Maar ’n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.

Nommer een: God verlei niemand om sonde te doen nie!
Nommer twee: Jou eie begeertes verlei jou om die verkeerde te doen.
Nommer drie: Jou begeertes lok jou uit en sleep jou saam – 'n sterk krag, moenie dit onderskat nie.
Nommer vier: Daardie een tree in die rigting van die begeertes, is reeds een tree te vêr.
Nommer vyf: Dit bly nooit daar nie. Net soos 'n bevrugte selletjie groei dit tot 'n volle vrug.
En sesdens, die sonde vrugte van die verloklike begeertes loop uit op die dood!

Ons kan dus nie skuil agter verskonings dat die verbode liefdesverhouding, of die drankmisbruik, of die bedrog met 'n besigheidstransaksie, of watter verkeerde daad, nie op my rekening behoort te kom nie. Ons dra self die verantwoordelikheid om nee te sê vir versoekings.

Onthou! Ons leef in 'n wêreld wat nie die wil van God soek nie. Ons weet ook dat die duiwel die kinders van God wil laat sondig. Dit gee hom oorwinningsvreugde. Ons weet ook dat ons ou sondige natuur steeds 'n negatiewe krag in ons lewens is, al is ons wedergebore deur die Gees.

Daarom moet ons onsself versterk hierteen, wat soos bemesting vir ons slegte begeertes is.
=> Begin elke dag met die Woord van God – dit is die swaard van die Gees teen jou vyande.
=> Bid sonder ophou vir die kragtige werk van die Gees in jou lewe.
=> Laat jou doelbewus lei deur die Heilige Gees. Dit is die lewenspad.
=> Omring jou met positiewe invloede, soos vriende, leesstof, TV programme of flieks. Vermy dit wat jou slegte begeertes sal versterk.

Wees verseker daarvan dat God in sy genade en liefde jou nie sal versoek nie, maar eerder sal krag gee om staande te kan bly teen versoekings!

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief) - (Teken hier in)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css