Die Weg

 

Die Goeie Herder (1)

“Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit.” - Johannes 10:3.

Daar is 'n groot verskil tussen die sorg van 'n eienaar en dié van 'n werknemer of huurling. Daar is 'n verskil tussen die manier waarop 'n moeder haar kind versorg en die manier waarop 'n gehuurde oppasster dit doen. En dit is veral duidelik wanneer die kind siek is of in gevaar verkeer. Die oppasster werk vir 'n loon; die moeder dien uit liefde. Wat Jesus in Johannes 10 vir ons sê, is dat ons aan Hom behoort.

Daar is iets wonderliks in die gedagte dat Jesus ons sy skape noem, dit is, dat ons aan Hom behoort. Dit laat ons verstaan hoe dierbaar ons vir Hom is. “Omdat Hy sy eie mense in die wêreld liefgehad het, hulle liefgehad tot die einde toe.” (Joh 13:1). Hierdie gedagte wys op die versekering van Christus se liefde en sorg. Dit is sy wil dat “sy eie mense" vir ewig by Hom sal wees. Maar dit laat ons ook ons plig teenoor Christus verstaan. As ons van “sy eie mense” is, dan het Hy die volkome reg om oor ons lewe en oor ons diens te beskik.

Daar is iets groots in die gedagte dat Christus sy skape op hulle afsonderlike name roep. Vergelyk dit met aardse leraars (predikante/pastore) wat soms nie hulle mense, al is hulle maar 'n paar honderd, by die naam ken nie. Christus het miljoene wat oor die hele wêreld versprei is. Dan staan 'n mens in verwondering dat Hy elkeen van ons persoonlik op die naam ken. Hier is 'n arm weduwee, een van Sy eie mense, wat in 'n ou verlate kamertjie in die hart van 'n groot stad woon, een tussen duisende. Ken Hy haar naam? Hier is 'n klein weeskind, een van Sy eie mense, sonder iemand om na hom om te sien. Ken Hy hierdie kleintjie? Sekerlik ken Hy. Dit moet vir elkeen wat Christus liefhet en aan Hom behoort, 'n baie kosbare waarheid wees. Hy weet wanneer sy eie mense ly of in gevaar verkeer, en Hy sal nooit selfs die geringste van hulle in die steek laat nie.

(word vervolg)

J.R. Miller: Come ye Apart
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css