Die Weg

 

Die Goeie Herder (2)

“En die skape luister na sy stem; en hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit. En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken.” - Johannes 10:3-4.

Die Oosterse skaapwagter dryf nie sy skape aan nie, maar stap voor hulle uit en lei hulle. As dit aand word, neem hy hulle na 'n plek van veiligheid. In die oggend lei hy hulle uit om te gaan wei. Dit is die beeld wat Jesus gebruik. Christus sal nooit sy mense dryf nie, maar Hy loop voor hulle uit sodat hulle Hom kan volg.

Skape moet gelei word. Hulle besit nie 'n natuurlike instink om self hul weg te vind soos ander diere het nie. Skape kan uit die trop afdwaal, dit is waar, maar 'n verdwaalde skaap kan selde sy pad terugvind. Daarom kan Jesaja sê: “Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop” (Jes 53:6). Ons kan nooit self ons weg terugvind as die Goeie Herder ons nie opsoek en teruglei nie.

Christus lei sy mense sagkens. Hy loop voor sy skape uit. Hy gee om vir die swakkes. “Hy sal sy kudde laat wei soos ‘n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei.” (Jes 40:11). Hy lei nooit sy skape te vinnig nie. Hy neem hulle somtyds oor ruwe en gevaarlike weë, maar Hy verloor nooit een van hulle nie. Geen skaap van Christus het nog ooit verlore geraak nie, selfs nie langs die gevaarlikste paaie nie.

'n Ou gids het vir 'n toeris in die Alpe, wat bang was om die gids se hand te neem sodat hy hom oor 'n gevaarlik uitstaande rots kon help, gesê: “Hierdie hand het nog nooit 'n man verloor nie.'' So het Christus nog nooit sy mense verloor nie. Hy het miljoene huistoe gelei: “Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak; en nie een van hulle het verlore gegaan nie.” (Joh 17:12).

Christus lei sy skape na die waters waar rus is. Somtyds lei Hy hulle deur woestyne, langs doringagtige paaie en deur donker klowe, maar Hy is altyd net voor hulle, en waar Hy is, is hulle veilig. Ten laaste lei Hy hulle deur die dal van die skaduwees tot binne-in die hemelse kraal, om dáár vir ewig veilig te wees in sy liefde.

Net soos 'n herder uittrek met sy skape
en hul laat neerlê in die veld van milde groen,
met sagte hand hul lei langs stille waters -
so is die HEER, so het Hy ook aan my gedoen:
Hy laaf my siel en lei my swakke skrede
in vaste spoor van sy geregtighede.
Psalm 23:1 (Beryming)

J.R. Miller: Come ye Apart
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css