Die Weg

 

Troos

“Troos, troos my volk, sê julle God” - Jesaja 40:1 (53 vertaling).

“Al help dit nie, dit troos darem”, sê ons somtyds as iemand in swakheid darem so 'n bietjie hulp probeer verleen.

Hoe anders is dit wanneer nie 'n mens nie, maar die Vader van alle Barmhartigheid, intree. Hy probeer nie hulp verleen nie - Hy help! Hy kom nie in swakheid nie, maar in krag. Hy troos nie alleen nie - Hy help werklik. So pragtig word dit gesê in Jesaja 40 vers 1: “Troos, troos my volk . . . en roep haar toe dat haar stryd verby is, dat haar skuld betaal is, dat sy uit die hand van die Here dubbeld ontvang het vir al haar sondes." Geen wonder dat daar in sulke woorde vertroosting lê nie, want daar lê in hulle ook die werklikheid van bevryding ('n stryd wat enduit gestry is), van verlossing ('n skuld wat betaal is), en van genade ('n genade wat twee keer soveel weeg as wat die volk se sonde geweeg het).

God het vir Israel troos aangebied. Daardie beloftes van God hou ook vandag nog stand vir Sy gelowige volk. Maar waarom ondervind ons nie daardie beloftes nie? Lê die antwoord nie in ons eie ongeloof, onwilligheid, traagheid en geestelike louheid nie?

Jy is beslis 'n uitsondering as jy nie troos nodig het nie. God het miskien al baie middele gebruik om jou te troos - boeke wat jy kon lees, vriende wat met jou kom praat het, die Bybel, eredienste wat jy kon bywoon en nog meer. Maar, let op, God het hierdie dinge en mense maar net gebruik. Nie een daarvan kon jou werklik troos nie. God het dit so beskik, want alles en almal was slegs wegwysers na Hom wat in staat is om jou blywend te troos.

Sal jy dan nie liewer met al jou leed, jou kommer en jou kwellings direk na Hom gaan nie? Hy bied jou tog soveel. Hy bied vir jou bevryding - 'n stryd wat enduit gestry en die oorwinning behaal is. Hy bied vir jou verlossing - jou skuld is betaal (ook dié waarvan jy bewus is, maar wat jy nie wil erken nie!). Hy bied vir jou genade - veel groter as wat jou sondelas ooit was. Dít is die troos wat Hy gee. Dit is die troos wat Hy vir jou aanbied. Aanvaar jy dit?

Ds John Murray du Toit: Terwyl die ketel kook (1946). (Taal effens vereenvoudig)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css