Die Weg

 

Ewewig

Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd.” - Prediker 3:1.

Daar is dag en nag. Die dag stel sy eise van werk en die nag sy eise van rus. Jy kom dit baie goed agter wanneer jy hierdie ewewig versteur. Daar is somer en winter. Skakel die warm sonskyn van die somer uit, en jy versteur die groeikrag van die natuur. Skakel die winterkoue uit en jy versteur die reinigende, suiwerende hand van die natuur.

Die natuur eis dat sy ewewig bewaar sal word; dat daar 'n rede is waarom daar lig en donker, hitte en koue, groen en grys is. Maar die mens is maar altyd die ewewigversteurder. Kunsmatig verander hy donker in lig met 'n eiegeregtige, selfbevredigende: “Ek het lig geskep!”, en leef verder in sy waan dat hy die natuur kan beheers.

Maar hy gaan verder in sy waan. Nie alleen versteur hy die natuurlike ewewig nie, maar hy probeer ook om die geestelike ewewig te versteur. Hy verontagsaam die instellinge van die Skepper. Hy bring nie geloofsbelydenis en geloofsdade bymekaar uit nie; hy versteur die ewewig tussen gebed en werksaamheid; hy gee nie die regmatige aandeel aan geloof en werke nie; hy verdeel nie sy aandag tussen tydelike gewin en ewigheidswaarde nie.

Dit vra baiekeer ernstige, droewige gebeurtenisse, selfs rampe, om ons die nodige respek vir daardie ewewig te gee. “Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar 'n tyd," sê die Prediker. Ons bestaan maklik in sonskyn - alleen die God van sonskyn en skadu kan ons help om ook in skadu voort te bestaan. Ons bestaan maklik in vreugde  - alleen die God van vreugde en droefheid kan ons help om ook in droefheid voort te bestaan. Ons bestaan maklik in die lewe – alleen die God van lewe en dood kan ons help om deur die dood heen voort te bestaan. Sal jy toelaat dat hierdie ewewig versteur word? Sal jy aan die lewe alleen aandag gee? Terwyl dit lewenstyd is, lewe met lus en ywer en vreugde, maar lewe só dat wanneer die sterwenstyd aanbreek, jy veilig sal wees in die beskerming van Jesus Christus, die Here van lewe en dood. Hy skenk vir jou lewenskrag, maar ook sterwensgenade!

Ds John Murray du Toit: Terwyl die ketel kook (1946). (Taalkundig effens aangepas)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css