Die Weg

 

'n Nuwe hart sonder angs (1)

Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel [moenie sorge hê] oor jul lewe...” - Matteus 6:25.

 >> Hierdie reeks van 4 boodskappe volg op die vorige reeks “Om die angs te oorwin”. Dit kom weer eens uit Helmut Thielicke se boek:  “Das Leben kann noch einmal beginnen” (Die lewe kan opnuut begin). In hierdie boodskappe word daar gekyk na die toepassing van dít wat in die vorige reeks gesê is. <<

Besorgdheid is altyd op die toekoms gerig en gaan gewoonlik gepaard met angs en vrees. Die onbekende toekoms is immers vol van alle soorte bedreigings: die oes kan misluk as dit deur die onbarmhartige son verskroei word; die finansiële instellings kan in duie stort; 'n mens hoor reeds die gekraak van die swak aanmekaargetimmerde stellasie waarop die wêreldpolitiek bedryf word en ons wag net vir die tyd wanneer dit ineen gaan stort.

Ons wat dit deurgemaak het, weet hoe dit voel om honger te ly, om verdryf te word, om in die hande van verskriklike mense te val. Ons weet hoe dit lyk en klink wanneer ons tuistes ineenstort en daar geen menslike hulp meer is nie. Ons weet dit omdat ons ore die rooi gloed gesien en ons ore die angskrete van mense gehoor het (**). Verbaas dit ons dan dat mense bekommerd is dat so iets weer kan gebeur? Sou hierdie sorge dan sonde wees? 

Ek glo nie, en ek dink veral nie dat dit is wat Jesus in gedagte gehad het toe Hy oor die sorge van die lewe gepraat het nie. Want die dinge hierbo, dit wat ons gesien, gehoor en met die mond ingeneem het, moet op 'n manier weer tot uiting kom, dalk as vrees vir die toekoms. Dit is dus nie soseer wat ons van buite inneem wat ons verontrus nie, maar eerder dit wat in ons hart gebeur. In hierdie hart van ons broei daar allerlei bose gedagtes wat ons vergiftig, en by hierdie bose gedagtes hoort ook dié van besorgdheid. Dit is hierna wat ons moet kyk.

As ons dus wil vrykom van ons sorge en ewige kwellinge, en die senuweespanning wat daarmee saamhang, moet ons ons hart verander. Ons kan nie dít wat ons vir ons toekoms beplan agterweë laat, of met oordrewe optimisme na die wêreldpolitiek probeer kyk nie. Dit lei net tot 'n kortstondige narkose waaruit ons spoedig weer wakker gemaak sal word. Nee, ons moet 'n nuwe hart ontvang. 'n Hart sonder gif sodat geen waanbeelde daaruit kan voortkom nie.

Laat ons dan maar 'n bietjie oor hierdie hart van ons gesels. Hierdie trotse en angsvallige ding wat hom met ons skuld en angs besig hou. Want selfs vir hierdie hart geld nou al die beloftes van God: dat die hart 'n plek kan word wat gevul is met vrede, sonder vrees, omdat Jesus Christus daarin is en dit bevry het van al die duistere magte. Nou mag ons oor hierdie dinge praat soos Jesus dit in die bergrede gedoen het, want Hy het die bergrede begin met: “Salig is julle. Julle is mos nou onder My sorg en beskerming. Nou kan julle sonder vrees en bewing na die verskriklike afgronde kyk.” Die hart word op 'n geheimenisvolle manier verander. Vrees en skrik maak plek vir 'n wonder. Dan sal dit ook vir ons duidelik word uit watter dieptes ons geruk is en hoe groot die liefde is wat daaruit spreek wanneer God hierdie wilde hart deur Jesus Christus sy eie maak.

(Lees volgende keer verder)

Uit: Helmut Thielicke - Das Leben kann noch einmal beginnen (verkort)

** Helmut Thielicke was self 'n man wat die storms van die lewe deurstaan het. Hy was dodelik siek en het die internering en ondervraging van die Gestapo en die ellende van die Tweede Wêreldoorlog aan sy eie lyf ervaar.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css