Die Weg

 

DV - As die Here wil

Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en 'n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.” Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar 'n damp wat 'n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.” - Jakobus 4:13-15.

Ons het so baie planne. Ons wil dit of dat nog doen, ons wil graag hierdie of daardie pos kry. Ons wil hierdie of daardie tyd met verlof gaan. Kom wat wil - ek sal dit deurvoer! Maar wag, sê die Here, dink eers 'n bietjie na: In wie se hande is jou lewe? Wie sê jy gaan nog lewe of gesond wees teen daardie tyd? Ja dit is reg. Ek sal doen wat ek beplan - As die Here wil en ek lewe!

Hy is die Enigste wat weet wat vir my voorlê en daarom moet ek my lewe in Sy hande lê. Gaan elke dag deur met die wete dat jy niks kan doen as dit nie die Here se wil is nie.

Ons is te seker van onsself, ons praat groot, ons beplan asof ons in beheer van ons toekoms is. Nee, "julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar net 'n damp wat 'n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn". Sê eerder : "As die Here wil en ons lewe sal ons dit of dat doen”. Hiermee erken jy jou volle afhanklikheid van God.

Uit: 'n Woord vir elke dag -1992 (SA Kapelaansdiens).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css