Die Weg

 

Almal wat Hom eer

“Hy bewys ontferming van geslag tot geslag aan dié wat Hom eer.” - Lukas 1:50.

In ons oë is die volgende mense baie belangrik: politici, grootpraters, rykes, leiers .... Dit is mense met baie aansien. Almal weet van hulle. Hulle het geld en ry met groot motors. Hulle name word kort-kort genoem. Wanneer hulle praat kan jy sien hulle is belangrik. Vir God maak dit egter nie saak nie. Rykdom, mag en belangrikheid tel nie by Hom nie. Al waarin Hy belangstel is dat die mense Hom eer. Dit maak Hom bly. In sy oë is die wat Hom eer belangrike mense.

Hoe lyk mense wat Hom eer? Dit is mense wat hulle lewens vir God gegee het. Hulle weet dat hulle niks sonder Jesus Christus is nie. Inteendeel, sonder Hom gaan hulle die ewige verdoemenis in. Daarom is hulle nederig en dien hulle die Here met alles in hulle lewe. Hulle maak nie staat op wie hulle is en wat hulle het nie, want die Here gee dit in elk geval vir hulle. Hulle verdien niks nie - al het hulle geld en mag en roem. Niks is vir hulle belangriker as die dinge van die Here nie. Almal wat God eer, is belangrik in Sy oë. Jy kan ook belangrik wees. Miskien nie by mense nie, maar wel by God. Hy is die God wat die aarde in Sy hande hou. Gee jou lewe vir Hom.

Uit: 'n Woord vir elke dag  (SA Kapelaansdiens).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css