Die Weg

 

Beplan? Ja! Maar besef jou beperkinge

'Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en 'n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.” Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar 'n damp wat 'n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.” Maar nou is julle te seker van julleself en praat julle groot. Al sulke grootpratery is verkeerd. As iemand weet wat die regte ding is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde.' - Jakobus 4:13-17.

In elke fase van jou lewe beplan jy vooruit. As jy in matriek is, oor jou beroepslewe, 'n ryding na skool, 'n eie blyplekkie. Studente dink aan werksaansoeke nadat die kwalifikasie verwerf is, 'n moontlike huwelik eendag. So word gesinne se lewens beplan rondom kinders en werk en vakansie. As jy ouer word, is die fokus weer op die aftreejare. Verhuising? Nog 'n ligter werkie dalk? Toer en kuier?

Dit is ook NIE VERKEERD OM TE BEPLAN NIE. Ons is immers na die beeld van God geskape – en die Woord vertel ons van sy beplanning, sy gedagtes oor ons, sy beskikking en vervulling daarvan. Mense het die kennis om te kan dink en verantwoordelik te leef. Ons kan tog nie “Gods water oor Gods akker laat vloei nie”! Dit is om God te versoek!

Maar ons moet ook ons BEPERKINGE ken wanneer ons beplan. Daaroor skryf Jakobus aan die verspreidwonende Christene in die destydse Romeinse Ryk. Moenie verwaand wees nie, besef dat jy nie beheer het oor jou lewe nie. “Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ’n damp wat ’n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn” (Jakobus 4:14). Die regte gesindheid vir elkeen van ons, of jou nou skoolkind is of 'n welvarende besigheidsman, 'n jong getroude of amper pensioenaris, is om in afhanklikheid van God te beplan. Kort en kragtig lei die Gees ons deur Jakobus se brief: “Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.” (4:15). Dan moet “as die Here wil” of “DV” (Deo volente – as God wil) nie net 'n stopwoordjie wees as ons oor die toekoms praat nie.

OPREGTE BEPLANNING volgens die Here se wil begin by gebed – voordat jy jou besluite neem. Nie eers besluit en dan God se hulp inroep om jou planne te laat slaag nie.

As die Here wil” sluit in om te erken dat SY WIL die uitkoms bepaal van wat beplan is en uitgevoer word. Ons besluite oor projekte, nadat ons gebid het, is geloofsbesluite, want ons kan nie die toekoms bepaal nie. Geloof dat ons in God se wil is, geloof dat Hy kan seën, geloof dat Hy sal aanwys wanneer ek verkeerd besluit het. En om daarin te berus en weer opnuut te bid en beplan.

Ons is nou reeds in Oktober. Ons kan TERUGKYK op die afhandeling van baie sake. Kan jy eerlik sê: Ek het volgens God se wil vanjaar se werk afgehandel? Was liefde tot God en jou naaste die riglyn? Het Hy die eer gekry vir suksesse? Was jy bereid om koersaanpassings te maak, wanneer jy besef het jy is op 'n eiesinnige pad? Het jy by die Bepaler van jou weë troos gevind, wanneer die regte dinge nie geslaag het nie, vanweë die sonde-stukkende wêreld waarin ons beplan en doen?

Beplan met wysheid. Besef jou afhanklikheid van God. Eer Hom in alles wat jy wil doen en afhandel!

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css