Die Weg

 

Om vrugte te dra

'Die woord van die Here het tot my gekom: “Mens, wat is wingerdhout beter as die kreupelhout tussen die bome in die bos? Word dit gebruik om iets van te maak, of gebruik iemand 'n stuk daarvan vir 'n pen om enigiets aan op te hang? Nee, dit word in die vuur gegooi om te brand. En as die twee punte gebrand is en die middel is geskroei, deug dit dan nog vir iets? Ook toe dit nog ongeskonde was, kon jy nie iets daarvan maak nie, en as dit gebrand en geskroei is, kan jy dit dan nog gebruik om iets te maak?” So sê die Here my God: “Van al die hout gooi Ek die wingerdhout in die vuur om te brand en so maak Ek met die inwoners van Jerusalem.' - Eségiël 15:1-6.

Dit is 'n baie interessante beeld wat die Here hier gebruik wanneer Hy Israel met 'n wingerdstok vergelyk.

In vergelyking met ander houtsoorte is die wingerdstok waardeloos. Die ander houtsoorte kan jy vir meubels en baie ander dinge gebruik, maar die enigste nut van die wingerdstok is die vrug wat hy dra. Daarom plant mense dit aan, versorg en snoei dit, sodat die eienaar van sy vrugte kan geniet. So het die Here Sy volk Israel in Kanaän geplant, as 'n goeie en edele wingerdstok. Die Here het van hulle verwag om vrugte te dra tot Sy eer.

Wanneer 'n mens lekker druiwe by iemand gekry het, prys jy die eienaar daarvan. Jy vertel van so-en-so wat sulke heerlike druiwe het. Die eienaar word geprys omdat die vrug goed en aangenaam is.

In vergelyking met nasies soos die Assiriërs en Egiptenaars was Juda nie veel werd nie. God het egter nie van hulle verwag dat hulle soos die ander nasies moes wees nie. Hy het van hulle gehoorsaamheid geëis sodat Hy hulle kon snoei en lei soos 'n mens 'n wingerdstok snoei om die beste vrugte daarvan te kry. Maar as Juda dan opgehou het om Hom te dien en vir Hom vrugte te dra, wat was hulle dan meer werd as ander volke? 'n Wingerdstok wat nie meer vrugte dra nie, word deur die landbouer uitgekap en weggegooi.

Ons kan dus sondig deur nie vrugte te dra nie. Nie net die persoon wat moor of steel of lieg verdien straf nie, maar ook die persoon wat niks doen nie. Daar is 'n sonde, genoem versuim of nalatigheid. Sê die Here nie dat Hy vir die wat veroordeel word, sal sê: “Vir sover julle dit nie gedoen het nie”? (Matt 25:45). “Elke boom word aan sy eie vrugte geken. ... Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart, en die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.” (Luk 6:44-45).

Die oplossing is in Johannes 15:5 waar die Here sê: “Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte”.  So maklik maak Hy dit vir ons. Bly in Hom, gehoorsaam Hom.

GEBED: Here, ek wil tog nie as vrugteloos uitgekap word nie; laat my in U bly.

Uit: ‘n Lig vir my pad deur Nig Sans. - Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css