Die Weg

 

Sy arms ewig onder jou

Die ewige God is 'n skuilplek, sy arms is altyd onder jou” - Deuteronomium 33:27 (83-vertaling).

Is daar iets waarna die wêreld méér verlang as na sekerheid? Elke persoon wil seker wees van sy werk, sy inkomste en sy toekoms. Die hoof van die huis soek sekerheid vir sy gesin vir vandag, maar ook vir wanneer hy dalk nie meer daar is nie. Die wêreld soek 'n anker, 'n vastigheid, 'n waarborg vir veiligheid en vooruitgang.

Maar op watter maniere word na hierdie sekerheid gesoek? Op 'n bankbalans, op 'n lewenspolis, op 'n regeringstelsel, op bewapening, op enige tydelike, menslike, aardse middele? Dit is immers waarop die mens vertrou. Maar met watter gevolge? Laat ons maar ons koerante oopmaak, of ons radio's en TV's aanskakel. Die chaos wat ons teëkom is die gevolge van die mens se verkeerde soeke na sekerheid in die lewe.

Is jy verwonderd daaroor? Ek nie! Die mens kry presies wat hy verdien en waarop hy sy hart gesit het. Die wet van oorsaak en gevolg is onverbiddelik. Die mens maai net wat hy saai.

Maar, vra jy radeloos, is daar dan glad geen hoop op 'n beter oes as wat die mens nou maai nie? Seker, maar dan moet die mens ander saad saai! Is daar dan geen hoop op bestendige, ware en voortdurende sekerheid nie? Ja, daar is, en daarvoor hoef ons geen prys te betaal nie! (vgl Jesaja 55:1-2).

Waar kry ons dit, óf wat is die weg wat ons moet volg? Deur geloof en 'n algehele vertroue op God. En watter sekerheid ontvang jy? Deuteronomium 33: 27 gee die antwoord: “Die ewige God is 'n skuilplek, sy arms is altyd onder jou!". Rondom my is daar gevare, onsekerheid en onbestendigheid. Maar onder my: Sy ewige arms! (vgl 53-vertaling).

Is dit nie vreemd dat die wêreld nie hierdie weg van sekerheid wil loop nie? Maar kom ons stel die vraag bietjie nader aan onsself: Is dit nie vreemd dat ons nie hierdie weg van sekerheid wil loop nie?

“Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk. Waarom betaal julle vir iets wat nie brood is nie, waarom werk julle vir iets wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My, sodat julle kan eet wat goed is en versadig kan word met die beste wat daar is.” (Jesaja 55:1-2).

Ds John Murray du Toit: Terwyl die ketel kook (1946). (Aangepas)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css