Die Weg

 

Sinlose goudsoekers

“En hulle wat u Naam ken, sal op U vertrou, omdat U die wat U soek, nie verlaat nie, o HERE” - Psalm 9:11.

Psalm 9 is 'n baie blymoedige lied. Die digter weet dat hy op God kan vertrou. God laat hom nooit in die steek nie. Hy bring dit pragtig tot uiting in die woorde hierbo: “omdat U die wat U soek, nie verlaat nie, o HERE.....”

Dit laat ons dink aan die woorde van Jesus: “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.” (Mat 7:7).

Maar daar is ook 'n soeke wat vrugteloos is. 'n Eindelose, hopelose soeke. Iemand sonder geloof soek geluk en vrede, maar vind dit nie. Wie sonder God wil lewe, soek steun en krag, maar vind dit nie. Wie sy eie weg volg, soek op daardie weg die lewe; hy wil aan die lewe vashou. Maar dit is 'n sinlose soeke.

Daar is baie goudsoekers in die wêreld. Mense op soek na die goud van geluk, van mag, van kennis, van liefde. Maar kom ons word liewer Godsoekers! Godsoekers kom nooit bedroë daarvan af nie. Want wie God soek, vind Hom en sal nooit deur Hom verlaat word nie.

Waar dit die liefde aangaan, is God altyd die eerste, maar as dit by verlaat kom, is ons die eerste. Maar solank daar in die mens 'n hunkering is na God .... solank ons ons leë hande na Hom ophef .... solank ons in ons swakheid by Hom krag soek .... solank ons ware berou het oor ons sondeskuld teenoor God, solank verlaat Hy ons nie.

Soekers na God ..... En die HERE laat Hom vind! Dit is die geheim: God is nooit ver weg nie. Hy is onmiddellik bereikbaar vir dié wat Hom soek.

As jy Hom nog nie gevind het nie, dan vra ek jou: het jy Hom dan werklik gesoek? Die goudsoeker vind geen goud én geen God nie. Die Godsoeker vind God én die goud, die onverganklike goud.

Uit: Avondzegen van di. W Schouten en S de Vries
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css