Die Weg

 

Ons hart in nood

‘n Rustige hart is die lewe vir die vlees, maar hartstog ‘n verrotting vir die gebeente.” - Spreuke 14:30 (53-vertaling).

[Hartstog = Baie sterk drang om 'n behoefte of 'n begeerte te bevredig (HAT)].

Een van my vriende is skielik dood as gevolg van 'n hartaanval. Hy is sonder waarskuwing van sy dierbares weggeskeur. Ons hoor of lees dikwels van een of ander belangrike persoon wat op 'n onverwagte wyse aan sy einde gekom het. Soms sak 'n persoon inmekaar om dan deur mediese tussenkoms nog 'n kans in die lewe te kry. Maar sy lewe is daarna nooit weer dieselfde nie.

Dit is duidelik dat ons manier van lewe baie verkeerd is. Ons jaag teveel dinge na. Oor die land en deur die lug vlieg ons voort, maar vergeet dat ons liggaam nie van staal en yster is nie. Uiteindelik is dit die hart wat ingee.

Die gevaar bestaan ook dat ons ons verpligtinge oordryf. Dit is goed om ambisieus te wees, maar dan moet 'n mens nie alles, ja, selfs jou gesondheid, op die altaar offer nie.  Ons ken die persoon wat uiters perfeksionisties ingestel is. Ook dié een wat so opgaan in sy werk dat daar geen tyd vir iets anders is nie. Ons ken die man wat so bekommerd is oor sy toekoms en sy finansiële sake dat hy vergeet om te lewe. Ek vrees dat dit die moeilikheid met die meeste van ons is: Ons voer 'n bestaan, maar lewe nie.

'n Rustige hart is die lewe vir die vlees”. Dit sien natuurlik nie op die hart van vlees nie, maar die hart as die geestelike middelpunt van ons wese. Maar van albei is dit waar. Die mensdom het behoefte aan innerlike rus en kalmte - dít wat Jesus Christus alleen kan gee. ['n Rustige hart hou die liggaam gesond].

Hartstog is 'n verrotting vir die gebeente”. Die hart is die barometer van die siel. Die liefde laat dit vinniger klop en skrik laat dit vir 'n oomblik swel. Angs laat dit soos 'n hamer slaan en 'n kalme natuur laat dit rustig beweeg. As jy vervul is met allerhande hartstogte word jou balans versteur en eindig dit in hartprobleme. Laat elkeen van ons let op die skrif aan die muur en kyk hoe laat dit met ons is. [Hartstog vreet 'n mens op].

Prof HDA du Toit: Na die eis van elke dag
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css