Die Weg

 

Geloof bring vastigheid

Toe sê Hy vir hulle: “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?” Hulle is met groot ontsag vervul en het vir mekaar gesê: “Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?” - Markus 4:40-41.

Jy ken dalk ook die storie van die oom in Namakwaland wat na 6 jaar droogte deur sy predikant aangemoedig word om te bly glo. Sy reaksie was: “Ek glo dominee! Maar die geloof-ding werk op my senuwees as dit nie begin reën nie!”

Werk geloof op jou senuwees? Of bring geloof vastigheid? Te midde van droogte, ekonomiese druk, politieke onsekerhede, wêreldwye onstabiele situasies met geweld, vlugtelinge, hongersnood, leef daar miljoene mense. Ook mense wat hulle geloof in Jesus Christus bely. Wat hou hierdie geloof in? Watter waarde het dit?

In Markus 4 vertel hy van Jesus en sy dissipels in ʼn storm op see. Sy dissipels word baie bang. Ek sou ook! Golwe wat in die skuit slaan, ʼn sterk wind. Met ʼn paar roeispane voel dit soos om met ʼn teelepel ʼn gebarste pyp te probeer toedruk. Nutteloos! Ons vergaan! En Jesus? Hy is rustig! Hy lê vas aan die slaap, moeg na ʼn dag se harde werk. Hulle ruk Hom wakker en beskuldig Hom: “Meneer, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?” (Mark 4:38).

Is dit nie soms ons reaksie op nood nie? Gee God dan nie om dat dit so droog is nie? Gee Hy nie om dat ek kan sterf aan kanker nie? Gee Hy nie om vir die gesin wie se jong pa gesterf het in ʼn motorongeluk nie?

Jesus tel ons en sy dissipels op uit die stormsee van vertwyfeling. Teenoor bangheid staan geloof. Daarom neem Hy dit weg wat bang maak. Hy raas met die wind! Die wind het gaan lê en daar het ’n groot stilte gekom (vers 39). In daardie stilte praat Jesus met sy dissipels, reguit, maar simpatiek. “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?” (vers 40). Hulle het Jesus nog nie as God geken nie. Daarom kry hulle respek vir Hom wat deur te praat die stormwind stil gemaak het! Wie is Hy? Hulle besef dat Jesus meer as mens is. Hy tree met goddelike gesag oor die stormwind en see op.

Die skepping sug weens die gevolge van die sondeval en wag op die nuwe aarde, wat Jesus sal herskep. Vrees vir die storms van hierdie gebroke wêreld is ʼn werklikheid. Ons word nie daarbo uitgelig, omdat ons glo nie. Wanneer ons egter herinner word aan God, wat almagtig en heilig bokant die skepping verhewe is, maak vrees vir storms plek vir vrees (respek) vir Hom.

Daarvoor het Jesus mens geword, om ons bewende geloofsbeentjies krag te gee. Onthou die uitgeputte mens Jesus, slapende in die skuit, is ook Seun van God. Deur ons geloof in Hom kry ons krag om die storms van die lewe te trotseer. Hy gee stilte na ʼn storm, selfs kalmte in stormagtige tye. Hy bemoedig deur sy woorde.

In Hom glo ek met my hele hart!

- Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css