Die Weg

 

Sulke geloof sien jy min!

Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: “Vriend, jou sondes word vergewe!” - Markus 2:5.

Ek sien in my gedagtes vier vriende wat vol geloofsverwagting hulle verlamde vriend op sy draagbaar tel. Hulle geloof dryf hulle om iets buitengewoons vir hom te doen. Die heel beste wat hulle kan, is om die vriend na die Here Jesus te bring. Die teleurstelling van 'n oorvol huis en geen plek om die draagbaar in te dra nie, stuit hulle nie. Hulle doen nog meer moeite. Op dak toe, met draagbaar en al die trappies op na die oosterse huis se dakstoep. 'n Paar dakplate word verwyder, toue word gelas, hulle vriend word tot voor Jesus afgesak.

Hoeveel moeite, geloofsmoeite, doen ons vir ons vriende? Ondersteun ons? Is ons apaties? Tree ons kragtig op? Beplan ons, pas ons planne aan om die pad tot die einde toe te loop?

Hierdie verlamde man se vier vriende het geglo, maar ook beplan, ook moeite gedoen, ook volhard! Wat 'n pragtige voorbeeld! Hulle geloof dat Jesus Christus die persoon is na wie hulle vriend geneem moes word, laat hulle met kreatiewe inisiatiewe na vore kom.

En die beloning? Veel meer as wat hulle verwag het, wat hulle vriend uit genade ontvang. Nie slegs wondergenesing vir die liggaam hier op aarde nie. Nee, veel meer! Want Jesus is volkome Verlosser van die totale ellende van die mens. Daarom hoor die verlamde man: “Vriend, jou sondes word vergewe!” (Markus 2:5). Jesus se antwoord aan die kritiese (ongelowige) skrifgeleerdes sê alles: “Maar Ek gaan nou vir julle die bewys lewer dat die Seun van die mens volmag het om op die aarde sondes te vergewe.”Hy sê toe vir die verlamde man: “Ek sê vir jou: Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.” (Mk 2:10,11).

Mag ons geloof in die volmag van die Seun van die mens, ons enigste Here en Verlosser, ons aanspoor tot kragtige dade, saam met en tot voordeel van ons geloofsvriende!

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css