Die Weg

 

Gelukkige vreemdelinge

“Want ons is vreemdelinge en bywoners voor u aangesig soos al ons vaders; ons dae op die aarde is soos ‘n skaduwee, en daar is geen verwagting nie.” - 1 Kronieke 29:15 53-vertaling.

“Ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige.” - Hebreërs 13:14 83-vertaling.

Dawid was ná aan sy einde as hy die woorde van1 Kronieke 29 bid. Sy tyd op die aarde was haas verby. En dan gee hy ook die erkenning aan die Here dat alles, ook dít wat hy aan die Here gegee het, alles tog maar uit Sy hand ontvang is: “Want wie is ek tog, en wat is my volk, dat ons in staat sou wees om sulke vrywillige gawes te skenk? Want dit kom alles van U, en uit u hand het ons dit aan U gegee.” (vers 14). Hiermee verwys Dawid na alles wat bygedra is tot die bou van die tempel in Jerusalem. En alhoewel hy die volk van God as vreemdelinge op aarde beskryf, het God hulle tog uitermate geseën. Ook ons, wat navolgers is van Christus, is vreemdelinge, want ons eie vaderland is die hemel, dáár waarheen ons weg ons lei.

Die hemel is vir baie mense iets vaag wat hulle nie kan omvat nie. Maar tóg kan ons iets van die hemel hier op aarde belewe: dáár waar ons welkom is net soos ons is, sonder om voor te gee wat ons nie is nie. Wat beteken dit? As ons aan Christus behoort is ons nuut gebore en is ons diep in ons harte met God verbind. Ons vind ons geluk tussen die ander “vreemdelinge”, waar ons openlik van ons verbintenis met God kan praat en ons verbondenheid met Christus openlik tot uitdrukking kan bring. Waar ons aanvaar word, nieteenstaande ons eie onvolmaaktheid met ons baie foute en rowwe kante, en waar ons verlede nie 'n las is wat ons hoef saam te dra nie. Dáár waar mense na God se Woord wil lewe en waar almal eensgesind uit een mond lof toebring aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus en mekaar aanvaar soos Christus ons ook aanvaar het, tot eer van God. (vgl Romeine 15:6-7).

- dw -

(Met erkenning aan P Hans-Peter Mumssen: CZA, Elmshorn, Duitsland)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css