Die Weg

 

Verwonder Jesus Hom ook oor jou geloof?

Maar die offisier sê: “Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. Sê maar net ’n woord, en my slaaf sal gesond word. ... Jesus was verwonderd toe Hy dit hoor, en Hy sê vir die mense wat agter Hom aan gekom het: “Dit verseker Ek julle: Ek het nog by niemand in Israel so ’n groot geloof teëgekom nie.” - Matteus 8:8-10.

“Sê maar net 'n woord, Jesus, en my slaaf sal gesond word.” Soveel geloof het die heidense offisier in die Here Jesus se gesag gehad. Hy het gesag geken, want die soldate onder sy gesag het sy bevele gehoorsaam.

Jesus verwonder Hom oor hierdie man se geloof, want sulke geloof het Hy nie onder Israel (Jode) gevind nie! Jesus het Hom 'n rukkie tevore verwonder oor die ongeloof van sy tuisdorp se (Joodse) mense (Markus 6:6).

Dit gaan soms ook so waar ek met mense te doen het. Soms staan ek verstom oor 'n persoon se geloof. Iemand van wie jy dit nie sou verwag nie. 'n Jong kind, 'n eenvoudige plaasarbeider, 'n sterwende bejaarde, 'n langhaar en oorbelversierde jongman ... Ander kere is ek verbaas dat iemand, wat al die kennis van die Here Jesus het, wat die Skrif jare lank lees en ken, geen geloof toon nie.

Daar is 'n baie sterk verbinding tussen wie Jesus as Seun van God is, wat ek van Hom glo, en wat Hy doen. Elke uitspraak in die Evangelies oor mense se geloof en wat Jesus gedoen het, belig een kant van die veelsydige en dikwels misterieuse verhouding.

Wat wil Jesus ons leer, wanneer Hy hierdie uitspraak van verwondering oor die offisier se geloof maak? Ek sien die volgende raak:

 => Dat geloof vrymoedigheid gee om te vra. “Here, my slaaf lê by my huis verlam en verduur baie pyn.” (Mat 8:6)

 => Dat geloof in Jesus die erkenning van sy onbeperkte gesag is. As Hy 'n woord sê, gebeur dit!

 => Dat geloof in Jesus 'n openlike belydenis op die lippe bring. “Sê maar net ’n woord, en my slaaf sal gesond word.” (Mat 8:8)

 => Dat geloof in Jesus die nederige oorgawe aan sy wil is. Geen dwang, geen voorskrif oor wat Jesus moet doen nie. Tog 'n erkenning en aanvaarding van sy goddelike vermoëns en goeie wil.

Hoe sterk is jou geloof in die Here Jesus? Wat verwag jy van Hom as Seun van God? Vertrou jy totaal op Hom wanneer jy in gebed tot Hom nader? Onthou ook wat Paulus gebid het: “Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe ...” (Efes 3:20-21).

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css