Die Weg

 

Soos ’n lam wat geslag is, so was Jesus se gesindheid

Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom.” – Jesaja 53:6.

‘n Lam na ‘n slagplek toe. ‘n Skaap wat geskeer word. Stom, sonder woorde van onwilligheid. Daarmee word die “Dienaar van die Here” se bereidheid om te ly ter wille van verdwaalde skape vergelyk. Vanuit hierdie beskrywing in Jesaja 53 word die titel “Lam van God” deel van die Messiasverwagting.  

Waarom lyding? Oor sonde!

Die rede vir die Lam wat geslag moes word, lê by die ander skape: “Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom.” (Jes 53:6). Die profeet praat van “ons”, die ou volk Israel, wat teruggekeer het uit ballingskap. Hulle was die begenadigde volk, wat die ware God leer ken het, wat presies geweet het hoe hulle sy Naam kon verhoog, op watter manier hulle aan die nasies van destyds kon wys dat die God van die verbond die Enigste was. Niks en niemand kon met Hom, sy almag, maar ook sy uitstaande liefde, vergelyk word nie. Hulle was die uitgesoekte kudde van die Here.

En tog het “ons” (Israel) verdwaal, afgedwaal na die paaie van afgodedienaars. So is die ware God verneder. Ten spyte van herhaalde oproepe tot terugkeer na die regte paaie, is volhard in moedswillige ongehoorsaamheid. Daarom is hulle in ballingskap oorgegee – vir ongeveer 70 jaar.

Maar nou het die tyd van vergifnis gekom. Daarvoor is die Dienaar beloof, die een wat in die plek van die verdwaalde skape hulle straf sou dra. “Hy is gestraf oor die sonde van my volk” (Jes 53:8).

Soos ’n lam wat nie kla nie!

‘n Klein onskuldige lammetjie, sonder gebrek, stil terwyl dit na die slagplek geneem word, so sou die Dienaar se gesindheid wees. Geen bitterheid nie, geen opstandigheid teen die feit dat hy gestraf word nie, geen verwyte nie. Stom sonder om homself te verdedig. Waarom? Omdat die Dienaar gewillig is om hierdie lyding op Hom te neem. Uit ‘n diep innerlike vrede, gebore uit liefde vir die afgedwaalde skape, sal Hy die straf vir hulle sondes dra. Dit is die Messias wat beloof is.

In die lydenstyd voor Paasfees word ons herinner aan die lam wat beloof is, wat as “die Lam van God” na die wêreld gekom het. Jesus Christus, gesalfde van God, wat vir die sondes van meer verdwaalde skape as net Israel van ouds, die straf kom dra het.

Hoe groot is sy liefde nie vir sondaars nie!

Hoe moeilik om te begryp dat daar ‘n Dienaar gekom het, wat bereid was om soos ‘n Lam wat stom is vir ons sonde te sterwe!

Dr. Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css