Die Weg

 

Gebed

Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.” - Psalm 50:15. (53-vertaling).

Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle gered.” - Psalm 107:6 (53-vertaling).

Die Woord van God leer my dat ek in alles, selfs in die grootste krisis en in my benoudste uur, na God kan kom in gebed. Wanneer ek nie meer die situasie kan hanteer nie, wanneer die pyn en lyding van siekte, die smart met die dood van 'n geliefde, die angs en vrees van my eie naderende dood, of watter krisis ook al te groot word, gee God vir my die belofte: "Roep my aan en Ek sal jou uithelp." God sê: "Bid tot My en Ek sal jou red, jou van jou krisis verlos." Watter groot belofte!

In my grootste krisis het ek die onuitspreeklike troos dat my hemelse Vader oor alles beskik, en dat Hy oor my waak met vaderlike sorg. God buig Hom in liefde na my neer en hoor my gebed as ek in geloof tot Hom bid.

Gebed in 'n krisis vra drie dinge van my: eerstens die geloof dat God my kan red. Gelowige gebed is as ek my krisis na God bring en daarmee my, met my krisis, in sy sterk hand toevertrou. My krisis word daarmee sy geleentheid om te doen wat Hy daarmee wil doen.

Tweedens vra gebed van my die gehoorsaamheid om God se wil my wil te maak. Gehoorsame gebed is as ek my ten volle tot beskikking van God stel, ook in my krisis. Ware gebed is ten diepste om die wil van God te soek en daarby te berus - wat ook al die uitkoms sou wees.

Laastens eis gebed van my dankbaarheid aan God, omdat ek weet dat ek nie alleen in hierdie krisis staan nie, maar dat God met my is en dat Hy net die beste vir my te doel het. Daarom moet ek God ook in my krisis eer.

Slegs so kan 'n krisis 'n gebedsgeleentheid wees om God opnuut as my Behoeder te ontmoet.

Gebed: Here, ek aanbid U as die God wat ook in my krisis oor my waak. Ek beroep my totaal op U. Verlos my. Gee my geloof, gehoorsaamheid en dankbaarheid om u wil my wil te maak. Amen.

Uit: Byderwets en byderwoords – saamgestel deur Annes Nel (Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css