Die Weg

 

Geloof, kosbaarder as goud

Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle 'n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.” - 1 Petrus 1:6-7.

Dit is baie makliker om in 'n goeie en liefdevolle God te glo wanneer dit goed gaan, as wanneer dit werklik sleg gaan. Die vraag wat ons onsself egter moet afvra, is of daardie geloof, wat so maklik na vore kom wanneer dit met ons goed gaan, ware geloof is. Mislei ons onsself nie dikwels as ons dink dat ons glo nie, veral in die tye van voorspoed?

Hierdie vrae mag miskien vir jou onbelangrik lyk. Vir God is dit egter van die uiterste belang, omdat geloof vir God so belangrik is: "Julie geloof is baie kosbaarder as goud" (1 Pet 1:7).

Ons is geneig om teen ons besittings, ons geld, motors of grond vas te kyk, ja, selfs teen ons vrou of kinders, en ons geloof daarop te bou. Dit moet ons soms ontneem word sodat ons alleen vir God, die Onsienlike, kan "raaksien". Dit is dan wanneer God vir ons kosbaar word - goud word. Geloof wat alleen op God gebou is, kan nie mislei nie. Ons geloof raak so gesuiwer van al daardie selfversekerdheid wat so maklik die ware geloof in God met voorspoed en geluk verwar.

As jy voel dat jy gestroop is van jou geloof in 'n krisis, wees nie bekommerd daaroor nie, omdat die "geloof" wat jy "verloor" het nie beteken dat jy God verloor het nie. Inteendeel, Hy wil jou juis van jou skyngeloof verlos. Weet egter dat dit wat bly staan het, hoe broos en nietig dit ook al vir jou mag lyk, vir God kosbaarder as goud is.

Ons kan nie die ware vreugde van Christenwees ervaar voordat God nie ons hart aangeraak het nie. Waar God aanraak, brand dit. Die brandpyn is nooit lekker nie, maar as ons mooi daaroor nadink, kom ons agter: God raak ons eintlik net 'n oomblik lank aan. Dit is wanneer dit verby is, dat ons met 'n ware geloof in die vreugde van 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde kan deel. Ook nou reeds - al sien ons dit nie.

Gebed: O Here, red my van geloof wat eintlik geen geloof is nie. Skenk my die geloof wat my te midde van my hartseer U vreugdelied laat sing. Amen.

Uit: Byderwets en byderwoords – saamgestel deur Annes Nel (Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css