Die Weg

 

Om geduld te beoefen

"'n Geduldige mens het meer waarde as 'n bedrewe vegter, 'n mens met selfbeheersing meer as iemand wat 'n stad inneem”  - Spreuke 16:32.

Ons meet die waarde van 'n mens baie keer aan die dinge wat hy doen. Hoe meer aktief iemand is, hoe groter die indruk wat hy laat. Soms voel mense wat bietjie terughoudend is, skaam dat hulle nie met krag opgetree het nie.

En tog is dit nie die voortvarendes wat altyd waarde het nie. Dis soms baie meer werd om geduld te hê en om met selfbeheersing op te tree. Om te veg vir iets moet dan later kom.

God se wysheidsboek leer ons: "'n Geduldige mens het meer waarde as 'n bedrewe vegter, 'n mens met selfbeheersing meer as iemand wat 'n stad inneem” (Spreuke 16:32).

Opvallend dat geduld en selfbeheersing ook deel is van die vrug van die Heilige Gees. “Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing” (Galasiërs 5:22,23).

Wat kan dan meer waarde hê as om te beleef dat jy deur die Gees van God gelei word? Dan kom die oorwinning deur God en nie deur my eie aksies nie.

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css