Die Weg

 

Om saam om God se Woord te kan verkeer

“En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan. “ - Deuteronomium 6:6-7.

Wanneer God jou uit genade deur Jesus Christus tot sy kind aangeneem het, dan is jy ook verantwoordelik vir die wyse waarop jy op jou goddelike kindskap reageer. En hierdie verantwoordelikheid begin by jou eie huis. Want God se beloftes kom aan jou toe en jou kinders: “Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders .... “ (Hand 2:39).

Die Here sê dat sy Woord in die volk se hart moet lewe, en onmiddellik daarmee saam gee Hy ook die opdrag dat hulle hierdie woorde moet oordra aan hulle kinders. Dit moet egter nie net by wyse van uitsondering of by die een of ander spesiale geleentheid oorgedra word nie, maar wel daagliks, by elke geleentheid moet hulle dit by hulle kinders inskerp.

Ons kan sê dat die kinders saam met hulle gewone daaglikse brood ook met die geestelike voedsel van God se Woord gevoed moet word. Reeds aan moedersknie moet kinders leer om die Here lief te hê en te dien. Wanneer 'n gesin begin om saam te bid, saam God se Woord te lees, saam die Here te dien, word dit vir hulle tot 'n heerlike seën. So 'n gesin kom saam onder die leiding en tug van God se Woord. Dit bring man en vrou, ouers en kinders na mekaar toe en na God toe terug. So 'n gesin word 'n toonbeeld van standvastigheid en is 'n anker en 'n seën vir ander mense wat op die punt staan om te verstik in die moeras van ellende sonder God! Gelukkig is daardie gesin wat saam om God se Woord verkeer en saam bid!

Gebed: Help my, o Here, om te kan sê: “Ek en my huis - ons sal die HERE dien”.

Uit: Lig en lewe, onder redaksie van ds MJ Smuts (verwerk)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css